Hoeveel keer het die Here nie na jou en my geroep om ons te gebruik om diensbaar te wees vir ander, of om ons miskien te stuur met ‘n spesifieke opdrag of boodskap nie en dan het ons die antwoord gehad van: “ek kan nie nou nie”? En dit omdat daar altyd iets “belangriker” is wat eers aandag moet kry!
Ek lees die volgende gelykenis wat deur Jesus self voorgehou word:
Luk 14:16 Maar Hy antwoord hom: ‘n Sekere man het ‘n groot maaltyd gegee en baie mense uitgenooi.
Luk 14:17 En op die uur van die maaltyd het hy sy dienskneg uitgestuur om vir die genooides te sê: Kom, want alles is nou gereed.
Luk 14:18 En hulle het hul almal eenparig begin verontskuldig. Die eerste het vir hom gesê: Ek het ‘n stuk grond gekoop en ek moet noodsaaklik uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u, verskoon my tog.
Luk 14:19 En ‘n ander een het gesê: Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra u, verskoon my tog.
Luk 14:20 En ‘n ander een het gesê: Ek het ‘n vrou getrou en daarom kan ek nie kom nie.
Altyd soveel verskonings en soveel redes hoekom ons nie nou kan nie! Want êrens in die Bybel het ons mos raak gelees dat: “elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word”, en wanneer ons dan tot bekering kom, dan is ons dood tevrede, want nou is ons gered en gaan ons hemel toe. Maar dis net tot daar waar ons die Bybel lees en dan vergeet ons die ander dele wat sê ons moet begin vrug dra.
Kol 1:10 sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei,
Mat 3:8 Dra dan vrugte wat by die bekering pas.
Joh 15:8 Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees.
Ek lees dus in Kolossense hierbo, dat ons waardiglik voor God moet wandel en hom behaag deur vrug te dra in “goeie” werke en dat die Vader daardeur verheerlik word, volgens Johannes. Dit beteken mos nou dat ek nie net agteroor kan sit en kyk hoe ander die goeie werke doen nie. Ek het ‘n plig teenoor Jesus om te doen soos Hy gedoen het toe Hy hier op aarde was. Dan sal ek Hom behaag en wandel ek in die wil van Abba Vader. Jesus self het per geleentheid gesê dat Hy net gedoen het wat Hy sy Vader sien doen het en wat Hy van sy Vader gehoor het.
Joh 8:38 Ek spreek van wat Ek by my Vader gesien het, en julle doen ook wat julle by jul vader gesien het.
As Jesus dan kans gesien het om Sy troon te verlaat en vir ons te kom wys waaroor God se koningkryk gaan en wat Vader se hart is, wie is ek en jy dan om te dink dat ons maar op ons louere kan rus en dat ons eendag die poorte van die hemel sal ingaan?
Fil 2:6 Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie,
Fil 2:7 maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword;
Fil 2:8 en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.
Want vers 5 van bogenoemde deel uit Filippense, sê tereg dat hierdie selfde gesindheid van dienskneg wees, van Jesus, moet ook in my en jou wees! Maar jy sien, ek en jy kies mos wanneer dit vir my en jou geleë is om die wil van die Vader te doen. Solank dit ons net nie iets kos of te veel van my tyd in beslag neem nie. Dit moet ook nie inmeng met my eie plesiertjies nie!
Dan lees ek ook verder dat Jesus vir ons sonde geword het, sodat ek en jy vry gekoop kan wees van die mag van die sonde! En terwyl God sonde haat, het Hy sy eie Seun vir ons sonde gemaak!!!
2Kor 5:21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.
Kan ons dan nou regtig so vermetel wees om te dink dat God se genade so goedkoop is? Nee, my liewe vriend en vriendin, as ek en jy nie gaan goeie vrugte begin dra nie, gaan ons uitgesny word en in die ewige vuur gewerp word!!! Jy sien, God se genade gaan jou lewe kos…’n lewe van diensbaarheid en gehoorsaamheid!!!
Joh 15:2 Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra.
Joh 15:5 Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.
Joh 15:6 As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.
Tereg sê die Woord dat ons nie deur werke alleen die ewige lewe sal beërwe nie, maar óók dat as jou geloof nie in werke omsit nie, dan is jou geloof dood!!!
Jak 2:17 Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood.
Jak 2:18 Maar iemand sal sê: Jy het die geloof en ek die werke. Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon.
In die gelykenis in Matt 22, soos alreeds aan die begin aangehaal, vertel Jesus ook dat die Koning toe tussen die bruilofsgaste beweeg het en iemand gevind het wat nie ‘n bruilofskleed aan gehad het nie. Die persoon kon hom nie eers antwoord met ‘n rede nie en hy is toe uitgewerp in die “buitenste duisternis”, en soos ek die Woord verstaan, is daai die hel!!! Wat ek dus uit die gelykenis verstaan, is dat geen persoon wat dink hy is gered, by die poorte van die hemel sal insluip nie! Jy sal alleen toegang kry as jy die wil van die Vader hier op aarde gedoen het!
Mat 22:11 En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie ‘n bruilofskleed aan het nie.
Mat 22:12 En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ‘n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie.
Mat 22:13 Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande.
Mat 22:14 Want baie is geroep, maar min uitverkies.
Die vraag wat ek en jy onsself vandag dus moet afvra, is hoe lyk ons bruilofskleed en het ons dit ooit aan? En as jy nie seker is of jy dit aan het nie of tot nou toe nie met my saamstem nie, kom lees gerus saam met my die gelykenis in Matt 25.
Mat 25:31 En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit;
Mat 25:32 en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei;
Mat 25:33 en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit.
Mat 25:34 Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.
Mat 25:35 Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My herberg gegee;
Mat 25:36 Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom.
Mat 25:37 Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee?
Mat 25:38 En wanneer het ons U ‘n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee?
Mat 25:39 En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom?
Mat 25:40 En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.
Mat 25:41 Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.
Mat 25:42 Want Ek het honger gehad, en julle het My nie te ete gegee nie; Ek het dors gehad, en julle het My nie te drinke gegee nie.
Mat 25:43 Ek was ‘n vreemdeling, en julle het vir My nie herberg gegee nie; naak, en julle het My nie geklee nie; siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie.
Mat 25:44 Dan sal hulle Hom ook antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien of dors of ‘n vreemdeling of naak of siek of in die gevangenis, en U nie gedien nie?
Mat 25:45 Dan sal Hy hulle antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.
Mat 25:46 En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.
My liewe kind van God, hoé klink jou blêr nadat jy bogenoemde gelees het? Dink jy nog dat barmhartigheid die dominee, pastoor of welsyn se werk is, of begin jy darem al die lig sien. Jy sien daardie preke van “onder die genade wees” tol nie heeltemal só lekker as ek al die bogenoemde Skrifte lees nie. Ja! Deur genade is ons gered en dit IS ‘n gawe van God, maar dit is die begin van ons paadjie as kind van God en nie die verwesenliking daarvan nie. Jy sien, daai “genade” kite is pretty much nog op die grond as my en jou geloof nie in werke omsit nie!
Want ek en jy is nie vir onsself gered nie, maar sodat ander Jesus se liefde en werke in ons kan sien en ook kan begeer om gered te word, indien hul nie alreeds is nie! Want jy sien, net die wat die wil van die Vader doen, sal gered word!
Mat 12:50 Want elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.
Kan ek en jy dan nou nog regtig bekostig om te sê: “Askies, maar nie nou nie”? Dink bietjie mooi voor jy weer iemand honger wegstuur of toe snou dat hulle net te lui is om te werk. My vriend en vriendin, daar kom ‘n dag dat Vader vir Jesus gaan terugstuur om Sy bruid te kom haal en hoé gaan Hy my en jou vind?
Daar is nog ‘n genade kans vir my en jou om gehoorsaam aan die wil van God te wees, maar die keuse is by ons en Vader sal ons nie dwing nie. Onthou net, dat as jy nie bereid is om dit vir ander te doen nie, het jy dit ook nie vir Jesus gedoen nie.
Het ek en jy dalk ook al engele gehuisves en dit nie geweet nie? Wat is nou hul getuienis voor Vader oor ons?
Heb 13:2 Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg.
Dit is nog nie te laat nie, daar is nog tyd…maar vir hoé lank nog?
Alle eer net aan ons Here Jesus Christus wie Sy plek op die troon verlaat het om vir ons die pad te kom voorstap!!!
Ernest Phillipson (Danabaai)
ecp@oicb.co.za