Of ons dit nou wil weet of nie, ons as kinders van die Here is in ‘n stryd met die bose gewikkel!! Baie mense egter, wat bely dat hulle Christene is, verstaan nie die stryd nie en is ook heeltemal so tevrede met hul comfort zone, dat hulle nooit toetree tot die stryd nie.
Ef 6:12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.
Die oomblik wanneer jy egter van die bose praat, dan spring sommige “Christene” se hare regop en sê baie vinnig vir jou: “los die duiwel uit, dan sal hy jou uitlos”. Nou mense hierdie deel kry ek nie in die Bybel nie, maar wel die dele wat ons oproep om hom teen te staan;
1Pet 5:8 Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.
1Pet 5:9 Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is.
Jak 4:7 Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.
Dit is dus baie duidelik uit die Woord van God dat ons die duiwel moet teenstaan!!
“Nou hoe doen mens dit?”, sal outomaties die vraag wees wat opkom, so kom ons kyk wat sê die Bybel volgens bogenoemde tekse:
1) Wees nugter en waaksaam
2) Standvastig in die geloof
3) Onderwerp jou aan God
As ons verder die Skrifte ondersoek, dan sien ons dat ons ook nog die wapenrusting van God aan moet hê sodat ons kan staande bly:
Ef 6:11 Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.
Die onmiddelike argument kan dan nou ook wees dat Jesus reeds die oorwinning behaal het, soos per Opnb 12: 11, en dat ons meer as oorwinnaars is in Christus Jesus, en dit IS verseker so in die geestesdemensie!! Maar wat van hier op aarde waar ons nog die stryd teen ons vlees voer? Kom ons gaan kyk bietjie mooi na hierdie vers:
Opnb 12:11 En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.
Oeps! Nou sien ons dat hierdie vers nie net stop by die deel wat sê dat die bloed van die Lam oorwin het nie! Dit sê ook dat daar ‘n woord van getuienis is wat moet uit en dan sien ek ook verseker dat hierdie ‘n stryd is tot die dood toe!! Beteken dit dan nou dat Jesus se bloed alleen nie genoeg was nie? Nee verseker nie, want dit is net die vlekkelose Lam van God wat die prys vir ons sondes kon betaal!!. En dit is die helm van verlossing wat ons moet dra, om te weet dat ons is duur gekoop en die prys was baie hoog…Jesus se liggaam en Sy bloed!!!
Kol 2:13 En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het,
Kol 2:14 en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael,
Kol 2:15 nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het.
So wat bedoel die vers in Openbaring dan? Eenvoudig dit: dat ek en jy wat tot bekering gekom het, moet getuig aan ander dat Jesus die Weg, die Waarheid en die Lewe is, dat Hy vir ons sondes aan die kruis gesterf het en dat God hom uit die dode opgewek het!! Noodwendig moet ons lewenswandel dan nou ook daarvan getuig. Hierdie is die skoene aan ons voete om die evangelie van vrede te gaan verkondig.
Ef 4:26 Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie;
Ef 4:27 en gee aan die duiwel geen plek nie.
Ef 4:29 Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ‘n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor.
Ef 4:30 En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.
Ef 4:31 Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid.
Ef 4:32 Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.
Nou kan die volgende vraag dan nou wees: “maar hoe lyk ons wapens dan?”. Wel, Efesiers 6 het reeds vir ons gesê hoe lyk die wapenrusting van God en hierdie is kragtige geestelike wapens, want onthou dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie!
2Kor 10:3 Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie;
2Kor 10:4 want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp,
2Kor 10:5 terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,
2Kor 10:6 en ons gereed hou om elke ongehoorsaamheid te straf wanneer julle gehoorsaamheid volkome is.
Die dele in Ef 4: 26 – 32, soos hierbo aangehaal, is die dinge wat ons in die vlees op reageer en wat op die ou einde ons hart kan besoedel. Want as ons aanhou om in ongeregtigheid te leef en op te tree, dan word ons hart naderhand verhard. Die Woord sê: “bewaak jou hart”, want jy sien, saam met Jesus se manier van dinge doen (dit is Sy geregtigheid), vorm dit jou borswapen.
Spr 4:23 Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.
Omdat God geweet het dat die mens maar ‘n kleingelowige skepsel is, wie meer vertrou op dit wat hy kan sien, as dit wat hy nie kan sien nie, het die Vader vir ons Sy seun Jesus gestuur om vir ons te kom wys hoe. Soveel mense se verweer is egter dat Jesus God is, en dat dit daarom vir Hom maklik was om nie te sondig nie. Maar kom ons kyk wat sê die Bybel:
Joh 1:14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon
Heb 4:15 Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.
Dit is dus baie duidelik dat Jesus mens geword het en net soos ons hierdie aarde bewandel het en dat Hy die duiwel nie plek (Ef 4: 27) gegee het nie. As ons gaan kyk na die dele in Matt 4 en Luk 4 wat melding maak van Jesus se versoekings deur die duiwel, dan sien ons dat Hy elke keer geantwoord het met: “daar is geskrywe”, m.a.w Jesus het die Woord van God gebruik om die duiwel te weerstaan.
Jesus self het gesê dat ons in God moet glo en dat ons nie moet twyfel of kleingelowig wees nie. Toe hulle in die storm op die see van Galilea was en Hy agter op die boot gelê en slaap het, en die dissipels Hom kom wakker maak het, Het Hy hulle gevra: “hoe is dit dan dat julle vrees, het julle dan geen geloof nie?”
Joh 14:1 Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.
Joh 14:13 En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word.
Joh 14:14 As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.
So wat is geloof dan nou en hoe kry ek dit? Dis eenvoudig: net soos jy verkies om te glo dat jy op ‘n stoel kan gaan sit en dit sal nie omval nie, so moet jy kies om te glo dat God (in Sy drie-
Heb 11:1 Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.
As ons dan weer kyk na Ef 6, dan sien ons dat die swaard wat deel uitmaak van die wapenrusting, is die Woord van God. Daarom is dit so krities belangrik dat ek en jy die Woord van God ken en dit self lees elke dag en nie wag tot Sondag wat die pastor of dominee dit vir ons lees in die kerk nie! Want daarin is Sy beloftes vir my en jou, waaraan ons kan vashou.
Jos 1:8 Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel.
2Tim 3:16 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
2Tim 3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.
Jy sien my vriend, so baie van ons sogenaamde “Christene”, wil mos nie meer die ou testament lees of hoor nie, want: “ons is nie meer onder die wet nie maar onder die genade”. Wel in 2 Tim 3: 16 en 17, sien ek baie duidelik dat die hele Skrif (en ja, dit sluit die ou testament in) is deur God ingegee (maak nie saak wie die skrywer van die betrokke boek is nie, Paulus, Johannes of wie ook al), en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing en tot onderwysing in die geregtigheid sodat ons volkome kan wees en volkome toegerus kan wees!! As ons weer gaan kyk wat Jesus gedoen het, dan sien ons ook dat Hy dan juis vir Satan, uit die ou testament aangehaal het. En ja, Satan ken die Bybel beter as ek en jy en daarom is dit nie nodig om die teks nr aan te haal nie, maar bloot dit wat daar geskryf staan.
Maar hoe gaan ek en jy vir Satan kan sê: “daar is geskrywe”, as ek en jy nog nooit gelees het wat staan geskrywe oor bv. My huwelik, my finansies, my en my gesin se lewens en gesondheid, ens., Nie.
My vriende, dis tyd dat ek en jy begin tyd maak vir die Woord van God, want ons is in die laaste dae en die aanvalle van die duiwel gaan net meer intens word!! Want sien, hy het mos nou ook al die einde van Openbaring gelees en hy ken sy uiteinde in die hel.
Mat 24:24 Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.
2Tim 3:1 Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom.
Toe ek destyds in die weermag was, in die artilleriekorps, het hulle ons noukeurig geleer hoe om die kanonne effektief en vinnig in aksie te bring vir die geveg en gereed om te vuur. Van tyd tot tyd sou ons uitgaan skietbaan toe vir ‘n veldoefening van gewoonlik so 2 tot 3 weke. Daar het hulle ons dan al die fynere kunsies geleer en gedril om so vinnig moontlik te reageer, sodat wanneer jy op die grens kom en in ‘n geveg kom, dat jy sal weet wat om te doen en effektief sal funksioneer.
Hierdie oefening in die veld, het dan behels dat jy vele kere van possisie verander en die kanonne in aksie bring en ‘n paar droeë bestokings doen en dan weer beweeg na die volgende stelling toe. Nou ‘n droeë bestoking is wanneer jy net die aksies uitvoer, maar nie werklik ‘n projektiel (koeël) in die loop sit nie…amper soos klein seuntjies met speelgoed gewere wat net heeltyd “bang, bang”, sê. Wanneer jy dan goed genoeg geoefen is, dan sal jy ‘n paar werklike skote skiet om te sien of die kanonne op teiken is.
Nou net so is baie van ons Christene besig met droeë bestokings teen die vyand. Ons hardloop van kurses tot kurses en die een Christenkamp na die ander, en so oefen ons onsself lekker fuks, maar wanneer ons terug kom in die “real world”, dan val ons maar weer terug in ons jammerhartig comfort zone en aanvaar maar gedweë die houe wat die vyand na ons slaan. Is jy dalk een van daai wat net sê “bang, bang” vir Satan? Pasop, hy skiet met “vurige pyle” (Ef 6: 16).
2Tim 3:5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.
Want sien, “’n kind van die Here moet mos maar lei”…snert man!!! Die Here het ons nooit bestem om wurmpies of slaansakke te wees nie. Sy laaste woorde aan die kruis was: “dit is volbring”…en daarmee het Hy bevestig dat Hy alles gedoen het om my en jou in staat te stel om te heers oor die bose en die sonde, want ons was van die begin van die skepping af gemaak om te heers.
Gen 1:27 En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.
Gen 1:28 En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.
En let wel! Die Skrif sê man en vrou het Hy hulle geskape en nie vrou vir vrou of man vir man nie!!!! Man en man of vrou en vrou is hoerery en dis sonde!!
Rom 8:37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.
Om terug te keer na die kanonne toe. ‘n Troep kanonne het uit vier kanonne bestaan saam met ‘n tegniese afdeling wat met vreeslike fancy calculators, al die ruitverwysings wat hulle van die gevegsfront af gekry het, verwerk het en deurgee sodat die nodige verstellings op die kanonne gemaak kan word om die vuur op die teiken te kan aanpas. Dan was daar iemand wat voor op die gevegsfront was, gewoonlik ‘n paar kilometer vorentoe, wat kyk waar die skote op die teiken val en dan die nodige korreksies deurgee na die tegniese mense by die kanonne wat weer die calculators slaan.
Net so het Jesus toe Hy opgevaar het na die hemel toe, ons ook nie in die donker gelaat nie en het Hy ons die Heilige Gees gegee om ons te lei en in te lig oor die dinge van die geestesdemensie, oor wat aangaan op die gevegsfront, en te waarsku oor ons sonde.
Joh 16:7 Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur;
Joh 16:8 en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel:
Net soos die tegniese mense by die kanonne, het Jesus ook vir ons hulp gegee om ons te help om op koers te bly en so dikwels skeep ons dit af en probeer ons alleen staande bly teen die vyand. Satan se plan is om ons te probeer isoleer, want dan is ons maklike teikens!
Jak 5:16 Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.
Maar jy sien vriende, ons mis hierdie kosbare waarhede en wapens in die Woord van God, omdat ons so besig is met droeë bestokings of heeltyd van stelling te verander.Ons moet nooit die krag van gebed gering skat nie!!!
Rom 10:11 Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.
Ons vergeet ook soms dat daar krag is in die Bloed en daaraan herinner die nagmaal ons en moet ons dit GEREELD in ons huise, besighede en kerke gebruik, nie net eenmaal per maand of kwartaal nie! Partykeer is ons so halfhartig in die stryd en dan skiet ons maar net so af en toe na die vyand net om sy kop laag te hou, maar dan sien ons hom nie op die grond nader kruip voordat dit te laat is nie. As ons dan wil skiet, dan kom ons agter die kanon se loop het olie gelek en is nie meer so effektief nie, of dit het selfs te veel olie gelek en kan dan glad nie gebruik word nie. Die Here waarsku ons ook in sy woord hieroor:
Rom 8:9 julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.
My vriende, moenie dat jou loop se olie uitlek nie!!! Sorg dat jy altyd gelaai is en sorg dat jy elke dag die vyand met doelvuur peper, sodat sy skuiling so warm word, dat hy geen ander keuse het as om te vlug nie. Want as ons nie vol van die Gees (olie) is nie, sal ons dalk die bruilofsmaal mis wat vir ons voorberei word.
Mat 25:1 Dan sal die koninkryk van die hemele wees soos tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet.
Mat 25:2 En vyf van hulle was verstandig en vyf dwaas.
Mat 25:3 En toe die wat dwaas was, hul lampe neem, het hulle geen olie met hulle saamgeneem nie.
Mat 25:4 Maar die verstandiges het olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem.
Mat 25:5 En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak.
Mat 25:6 En middernag was daar ‘n geroep: Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet!
Mat 25:7 Toe staan al daardie maagde op en maak hulle lampe gereed.
Mat 25:8 En die wat dwaas was, sê aan die verstandiges: Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan uit.
Mat 25:9 Maar die verstandiges antwoord en sê: Miskien sal daar nie genoeg wees vir ons en vir julle nie. Maar gaan liewer na die verkopers en koop vir julleself.
Mat 25:10 En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit.
Mat 25:11 Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, meneer, maak vir ons oop!
Mat 25:12 Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie.
Mat 25:13 Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.
Daar is ‘n belofte dat ons eendag op die troon saam met Abba Vader sal sit, as ons net volhard en oorwin!!! My liewe vriend en vriendin, het jy al jou lewe aan Jesus oorgegee en toegelaat dat Hy jou vul met die Heilige Gees? As jy het, getuig jou lewe daarvan? Nou as jy het, pak die groot kanonne uit en begin vuur!!
As jy dit nog nie gedoen het nie, nooi ek jou vandag uit om dit te doen en toe te tree tot die stryd, want more kan dalk te laat wees!!!
Opnb 3:20 Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.
Opnb 3:21 Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.
Bowenal, omring jou met die waarheid en let op wat jy spreek. Daar bestaan nie so ding soos ‘n “witleuentjie” nie, LIEG IS LIEG!!!
Joh 3:21 Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is.
Joh 8:32 En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.
Kol 3:9 Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het
Mag jy Jesus waarlik ken en beleef as jou Redder, jou Verlosser, jou Saligmaker, jou Geneesheer, jou Voorsiener en jou Vriend!!!
Wees geseënd in Jesus Naam!!!!!
Alle eer aan Jesus wat vir ons sondes aan die kruis gesterf het, begrawe is, opgestaan het uit die dode en opgevaar het na die hemele waar Hy nou sit aan die regterhand van Abba Vader!!
Ernest Phillipson (Danabaai)
ecp@oicb.co.za