“As ek U hemel aanskou, die werk van U vingers, die maan en sterre wat U toeberei het – wat is die mensekind dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek? U het hom weinig minder gemaak as ‘n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon.  U laat hom heers oor die werke van U hande; U het alles onder sy voete gestel.” (Psalm 8:4-7).

Hoe is dit moontlik dat ek nog enigsens kan dink ek is ‘n klein, nietige, onbelangrike wurmpie, terwyl hierdie teksvers so duidelik en ondubbelsinnig is?  Ek en jy is baie, baie spesiaal vir God, al probeer die wêreld op so baie wyses en in so baie vorme vir ons die teendeel bewys. Van kleins af hoor baie van ons by ons ouers, ons onderwysers en ons kerkmense hoe min ons werklik beteken, en hoe nietig ons werklik in God se oë sou wees.  Wat ‘n hartseer leuen!

Hoor net wat sê Hy self in Jesaja 49:15-16 oor my en jou: ” Kan ‘n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie?  Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ek jou nie vergeet nie! Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer, jou mure is gedurig voor my.”   Was jy al ooit so lief vir enigiemand dat jy sy of haar naam of gesig in jou handpalms gegraveer het?  Wel, God sê Hy doen dit – met my en jou!  Is dit nie fantasties om te besef dat jou naam in die Here se handpalms verewig is nie, mits jy natuurlik wedergebore is? Hy sê dit sal makliker wees vir ‘n moeder om haar baba te vergeet, as wat dit vir Hom is om jou en my te vergeet.  Ek dink ons weet elkeen dat ‘n moeder haar baba sal beskerm met alles wat in haar is – hoeveel te meer dan God, die Vader, Seun en Heilige Gees?

“Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in Sy Naam glo…” (Johannes 1:12)   Sien jy, ons het die “reg” om kinders van God te word, maar daar is ‘n voorwaarde aan gekoppel.  Ons moet Hom eers aanneem en in Sy Naam glo. Ons moet eers in ‘n persoonlike verhouding met Hom ingaan!

Die Here sê selfs dat Sy ingewande oor ons in beroering is.  Glo jy my nie?  Kom ons kyk na die woorde van Jeremia 31:20: “Is Efraim vir My ‘n dierbare seun of ‘n troetelkind? Want so dikwels as Ek teen hom spreek, dink Ek nog altyd aan hom; daarom is my ingewande oor hom in beroering; Ek sal my sekerlik oor hom ontferm, sê die Here.”   Is dit nie wonderlik nie?  Om te dink die groot en almagtige God raak OPGEWONDE oor jou en my! Daarom wil Hy nie hê dat enigeen moet verlore gaan nie. “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, sodat ELKEEN (wit , bruin, geel of swart) wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”   (Johannes 3:16).

Kom ons hou dus op om onsself, ons kinders, of die mense rondom ons te verkleineer, te verneder of sleg te sê.  Hoekom? Want God sê Hy het ons ‘n weinig minder gemaak as ‘n “goddelike wese”. En gaan ons terug na die oorspronklike Hebreeuse teks, sien ons dat die woord waarmee “goddelike wese” vertaal is, is  “El-Ohim”.  En gaan ons terug na Genesis 1:1 ook in die oorspronklike taal, sien ons daar staan: “In die begin het “El-Ohim” (God) die hemel en die aarde geskape.”  Wat sien ons dus?  Dit beteken die Psalmis jubel dit uit dat God ons in werklikheid net ‘n weinig minder gemaak het as Hom self!  Is dit nie ook ‘n wonderlike, ontsag- en eerbiedwekkende, fantástiese wete nie?  Dat so ‘n Almagtige, alomteenwoordige, liefdevolle God ons, gewone mensies, net ‘n klein bietjie minder gemaak het as Hy self!  Wonderlik!!!

Dit gee ons egter geen rede om enigsens hoogmoedig te raak daaroor nie. Inteendeel, dit moet by ons ‘n diepe, eerbiedige en nederige aanbidding en lofprysing tot stand bring. ‘n Eerbied en ontsag vir hierdie groot en wonderlike drie-enige God wat elkeen van ons voor ons geboorte al gekies het.  Kyk net hoe mooi stel Dawid dit in Psalm 139:13-15: “Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef.  Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is U werke! En my siel weet dit alte goed.  My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde.” Wat is ék dus vir God? “Wonderbaar”! Het jy al mooi gedink hoe spesiaal God jou gemaak het, liewe vriend?  Nét jy het daardie presiese vingerafdrukke aan jou vingerpunte, nét jy het presies daardie kleur, of krul, in jou hare, nét jy het so ‘n skewe linker groottoon, nét jy het daardie spesifieke wipneus, nét jy het daardie geboortevlek op jou regterarm.  Daar is op hierdie hele wonderlike aarde net EEN soos JY! En God het jou “kunstig geweef” in jou moeder se skoot!  Dink net daaraan dat jy selfs ‘n kampioen swemmer was nog lank voordat jy gebore is – want net één spermsel uit miljoene kon daarin slaag om die eiersel te bevrug wat jóú voortgebring het!

En hierdie wonderlike God sê Hy het jou en my name in Sy handpalms gegraveer, vir ewig op Sy handpalms ingeprent!  Liewe mens, as jy nog nie tot die besef gekom het hoe spesiaal jy vir God is nie, en as jou gedagtes van jou “nutteloosheid” in mense se oë jou nog weghou van jou wedergeboorte en ‘n persoonlike verhouding van God af, gaan lees asseblief weer die bogemelde teksverse in jou eie Bybel, en vra God om sélf Sy liefde aan jou te openbaar.  Vra in ‘n kort, eerlike gebed vir die Here om jou te vergewe vir alles wat jy in die verlede verkeerd gedoen, of van jouself verkeerd gedink het, en aanvaar Sy wonderlike vergifnis.  Begin dan om elke dag te wandel in daardie fantastiese wete van hoe spesiaal JY vir HOM is.  Moenie toelaat dat die satan deur die mond van ENIGE mens jou weer probeer wysmaak dat jy nie vir God spesiaal is nie.  Dit is ‘n leuen van die satan!

tiaan gildenhuys – 13/09/2001