Ek skryf hierdie artikel na aanleiding van onlangse gebeure in ons eie lewens toe ons dogter weereens in die hospitaal opgeneem moes word, asook ander voorvalle waar ‘n baba van 14 maande se lewe deur ‘n fratsongeluk geneem is en ‘n 14 jarige kind se dood as gevolg van ‘n tref-
Heel aan die begin van hierdie artikel, wil ek dit net baie duidelik stel, dat ek nie bedoel om ‘n klinklare antwoord te gee oor hierdie vraagstuk nie, maar om bloot ‘n bietjie lig te werp op die realiteit dat geen mens gevrywaar is teen die aanvalle van die Satan nie…nie eens getroue en gehoorsame kinders van die Here nie…en dat God nie dood maak nie!
Die heel eerste vraag wat só dikwels gevra word is: “hoekom het God dit toegelaat?” As ons dan sulke getroue en gehoorsame kinders van God is, hoekom laat Hy toe dat die Satan ‘n geliefde kind se lewe neem, of ons aanval met siektes en krankhede? Só dikwels word die verhaal van Job dan aangehaal en word daar gesê dat God ons geloof wil toets. As ek egter die verhaal van Job lees, sien ek duidelik dat God juis by Satan gespog het oor Job se geloof. Hy het dus nie nodig gehad om Job se geloof te toets nie, want Hy het presies geweet dat Job Hom nooit sou verloën nie!
Job 1:8 En die HERE vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ‘n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad.
Die volgende vraag wat onmiddelik opkom is, wat is die “oop deure” in ons lewens wat die Satan ‘n reg gegee het om aan te val. En tereg IS dit Satan wat hier op aarde is om te steel, slag en verwoes!
Joh 10:10 Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.
Die dief na wie Jesus hier verwys, is Satan homself. Ons sien dit ook in ander aanhalings waar Jesus die gelykenisse gee van die goeie herder en die skaapkraal, waar hy dan sê dat die dief nie by die deur van die skaapkraal inkom nie. Die goeie herder verwys natuurlik na Jesus homself en so is Hy ook die deur (Weg) waardeur die skape (gelowiges) in die kraal kom. Die blote feit dat ek en jy kinders van God is, maak die duiwel briesend en maak ons teikens van sy aanslae! Daarom is geen kind van God gevrywaar van die duiwel se aanvalle net omdat ons nou “onder die Bloed” is, nie.
Opb 12:12 Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.
Dit is tereg egter ook só dat “oop deure” verseker die vyand ‘n reg sal gee om ons te kan aanval en moet ons voortdurend onsself voor God verootmoedig en Sy Heilige Gees vra om aan ons die areas uit te wys waar ons in ongehoorsaamheid leef teenoor Sy woord. Só dikwels bind die vyand ons só vas met ‘n besige lewensstyl of met ons oog gevestig op die wêreldse dinge, dat ons verhouding met Jesus skade lei en dan hoor ons nie die stem van Sy Gees wanneer Hy ons waarsku teen die aanvalle wat die vyand teen ons beplan nie. Ek is ook van oortuiging dat Jesus hom nooit sal laat “outgive” deur die vyand nie en dat Hy altyd eerste is met ‘n waarskuwing of ‘n antwoord.
Die feit van die saak is, dat selfs Jesus nie gevrywaar was teen die aanvalle van die vyand nie en het Satan hom voortdurend aangeval tydens Sy 33-
Heb 4:15 Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.
En dit bloot omdat Jesus in alle opsigte mens was net soos ek en jy vandag:
Joh 1:10 Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie.
Joh 1:11 Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.
Joh 1:12 Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;
Joh 1:13 wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.
Joh 1:14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.
Satan se aanslae teen Jesus was só erg, dat hy selfs die hele wêreld aan Hom beloof het, as Jesus hom net sou aanbid…en dit alles nog voordat Jesus één wonderwerk gedoen het. Jy sien, want hy het geweet dat as Jesus aan God in alle opsigte gehoorsaam sal wees tot die einde toe, dan het hy, wat Satan is, GROOT probleme! Want Jesus het nie net gekom om te sterf vir die mens se sonde en só versoening tussen mens en God te bring nie, maar ook om die heerskappy, wat van die begin af aan die mens gegee is, te kom terugvat uit Satan se hand. Hierdie heerskappy is in die tuin van Eden deur Adam aan die vyand weg gegee toe hy aan die vrug geëet het.
Kol 2:14 en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael,
Kol 2:15 nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het.
Jy sien my vriend, die vyand IS oorwin, maar hy is nie gebind en kragteloos soos só baie keer deur Christene en predikers voorgehou word nie! Jesus het die oorwinning vir ons behaal en daarna het Hy ons mede-
Rom 8:37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.
Ek sien egter ook dat die Woord duidelik meld dat Jesus aan ons die mag gegee het oor al die “krag van die vyand”:
Luk 10:19 Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie.
Dit is dus baie duidelik dat Satan nie kragteloos is nie en dat hy nie hier op aarde is om saam met ons te kom koekies bak nie! Hy haat Jesus en daarom haat hy alles wat Jesus geskape het en in die besonder die mens, omdat die mens geskape is om in ‘n liefdesverhouding met Jesus te leef.
Ons kan egter met sekerheid weet, dat ons in die krag van Jesus, kan staande bly in hierdie stryd teen die vyand.
Joh 16:33 Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.
Tereg sê die Bybel dan ook dat ons in ‘n stryd teen die vyand is hier op aarde, al het Jesus hom reeds oorwin. Die harde waarheid is dat hierdie ‘n stryd is tot die dood toe en dat ons, óf bloedbelope daarvan sal afkom, óf in die geveg gaan omkom as ons dit nie in die krag van Jesus aanpak nie.
Ef 6:11 Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.
Ef 6:12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.
Weereens bevestig hierdie stuk dat, die vyand hier op aarde, Satan homself is en omdat ons hom nie kan sien nie, kan ons hom nie in die vlees baklei nie! In die brief aan die Korinthiërs, stel Paulus dit duidelik dat ons nie met vleeslike wapens kan baklei nie.
2Kor 10:3 Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie;
2Kor 10:4 want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp,
2Kor 10:5 terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,
Beteken dit dan nou dat ons nie mag hartseer wees as die vyand een van ons geliefdes kom steel nie? Nee, verseker nie! God het die mens gemaak met emosies en dit is een van die dinge wat aan ons gegee is, sodat ons kan uitting gee aan die seer en kwaad wat binne ons woed, sodat daar ook met verloop van tyd, genesing kan kom. Die voorwaarde is net dat die kwaad teenoor die vyand gerig moet wees en nie teenoor mense of selfs God nie. Baie keer word God verkwalik omdat Hy dan nou “kwansuis” die aanval of verlies toegelaat het of dit voel vir die persoon asof God nie daar was om hul te beskerm nie. Die feit is dat God die outoriteit om te heers, aan die mens gegee het en dat dit van die begin af Sy skeppingsopdrag was. Omdat Hy dan tot op die laaste komma en punt, getrou is en sal wees oor Sy woord, sal Hy nie inmeng nie, al kan Hy ook.
Wat net só hartseer is, is die leuen wat verkondig word tydens roudienste of begrafnisse wat sê: “die Here het gegee en die Here het geneem”. Terwyl dit inderdaad só is dat alles wat ons het of ontvang (man, vrou en kinders ingesluit), slegs aan ons geleen word, is bogenoemde aanhaling uit die boek van Job geneem en word dit verkeerdelik kwoteer in sulke gevalle. Terwyl Job inderdaad hierdie woorde gespreek het terwyl hy op die ashoop gesit het, nadat hy alles verloor het, het hy op ‘n later stadium hierdie, en ander uitlatings, herroep toe hy met God in gesprek was. Lees gerus die gedeelte uit Job 42: 1-
Die ander leuens wat by begrafnisse voorgehou word is dat God die mooiste blommetjie vir Sy tuin kom pluk het. Ek lees egter nêrens in my Bybel dat ons as blomme eendag in die hiernamaals, in God se tuin gaan pronk nie. Ek lees wel dat ons met verheerlikte liggame soos engele sal wees in die hemel en ook dat mense soos Abraham en Elia, lewendig is in die hemel. Dit is vir my die versekering dat ons wel eendag met ons geliefdes (dié wat Jesus aangeneem het as Saligmaker) in die hemel verenig sal word en dit opsigself bring ‘n mate van troos.
Die Woord is egter baie duidelik dat God nie mense doodmaak nie en veral nie klein kindertjies nie!
2Sam 14:14 Want ons moet eenmaal sterwe en soos water wees wat uitgegooi word op die grond, wat ‘n mens nie weer kan versamel nie; en God neem die lewe nie weg nie, maar Hy koester gedagtes om ‘n verstotene nie van Hom af te stoot nie.
Mat 22:32 Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob?God is nie ‘n God van dooies nie, maar van lewendes.
Terwyl dit vir ons as mens moeilik mag wees om die trauma en tragedie van spesifieke gebeurtenisse te verwerk, is God die een wat getrou is en ons daardeur bystaan. Hy belowe nêrens in Sy woord dat Hy dit van ons sal wegneem nie, maar Hy belowe dat Hy ons daardeur sal help en krag gee en dan gebruik Hy ons weer om iemand anders te bemoedig, wie deur soortgelyke omstandighede gaan.
2Kor 1:3 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting,
2Kor 1:4 wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word.
2Kor 1:5 Want soos die lyde van Christus oorvloedig is in ons, so is ons troos ook oorvloedig deur Christus.
1Kor 10:13 Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.
Op die ou end is dit dan ook ons getuienis saam met die Bloed van die Lam, wat die oorwinning gee oor die bose!
Opb 12:11 En hulle het hom (Satan) oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.
Jy sien my vriend, Jesus het nie belowe dat dit maklik sal wees om ‘n kind van God te wees nie, maar Hy het belowe dat Hy ons nie alleen sal laat nie en dat Hy ons die krag sal gee om staande te kan bly. Paulus getuig ook daarvan in die briewe aan die Filipense en Korinthiërs.
Fil 4:12 Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.
Fil 4:13 Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.
2Kor 12:9 En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.
2Kor 12:10 Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk.
In die Bybel lees ons ook van verskeie ander gesalfdes van die Here (bo en behalwe Job en Paulus), wie erge verdrukkinge beleef het. Ons sien hoe Josef, as jong seun, van sy familie weggeskeur word en vir menige jare geen kontak met sy ouers of familie het nie. Dawid word op 15 jarige ouderdom gesalf as koning, maar moet vir nog 15 jaar vlug en vir sy lewe vrees, voordat hy die koningskap kan opneem. As ons na die lewens van die apostels gaan kyk, lees ons hoe elkeen van hulle verdruk en uiteindlik dood gemartel is, omdat hulle Jesus gedien en verkondig het. Daar is nog menige ander voorbeelde wat ek kan noem, maar die punt wat ek wil maak, is, dat kinders van die Here vervolging en verdrukking ly en dat ons nie gevrywaar is daarvan nie. Terwyl hierdie mense se lewensverhale nie noodwendig vertroosting gee nie, dien dit tog as bewys dat ons nie alleen in hierdie stryd is nie en dat, net soos sommiges ons voorgegaan het, daar ook nou mense is wat dieselfde hartseer in hul lewens deur worstel en heelwaarskynlik dieselfde vraag vra…HOEKOM?
Terwyl daar nie in alle gevalle ‘n bevredigende of bemoedigende antwoord is op hierdie vraag nie, kan ons verseker weet dat ons nie alleen in die storm is nie, want Jesus weet van elke traan wat ons stort en elke hartverskeurende oomblik waardeur ons worstel. Hy belowe dan ook dat alles ten goede sal meewerk as ons net aan Hom vashou.
Rom 8:28 En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.
Rom 8:31 Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?
Rom 8:32 Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?
Rom 8:33 Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak.
Rom 8:34 Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.
Rom 8:35 Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?
Rom 8:36 Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape.
Rom 8:37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.
Toe ons Sondagmiddag by die huis kom nadat my dogtertjie uit die hospitaal ontslaan is, lees ek in ‘n boek wat ‘n vriendin geskryf het oor die verdrukkinge in haar lewe en haar pad saam met die Here. Die heel eerste reel wat ek toe lees, vertel sy van die antwoord wat die Here haar gegee het, toe Sy met die “hoekom”-
1Pet 3:12 Want die oë van die Here is op die regverdiges en sy ore tot hulle gebed, maar die aangesig van die Here is teen die kwaaddoeners.
1Pet 3:13 En wie is dit wat julle kwaad sal aandoen as julle navolgers is van die goeie?
1Pet 3:14 Maar as julle ook moet ly ter wille van die geregtigheid, salig is julle. En vrees hulle glad nie, en wees nie ontsteld nie.
1Pet 3:15 Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees;
1Pet 3:16 met behoud van ‘n goeie gewete, sodat in die saak waarin hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, húlle beskaam mag word wat julle goeie lewenswandel in Christus belaster.
1Pet 3:17 Want dit is beter, as die wil van God dit eis, dat julle ly wanneer julle goed doen as wanneer julle kwaad doen.
1Pet 3:18 Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring—Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees;
Die feit bly staan dat Jesus self gesê het dat ons verdrukking op hierdie aarde SAL hê Joh 16:33) en al wat ek en jy op die ou end gaan hê om aan vas te hou is Jesus Christus van Nasaret, want net Hy het die antwoorde en net Hy kan weer heelmaak waar die vyand kom afbreek het. Ons kan dit egter net doen as ons bereid is om in geloof aan Hom vas te hou. Die feit dat ons vasstaan in ons geloof, gaan heelwaarskynlik nie ons omstandighede verander nie, maar dit gaan ons en ons uitkyk oor die situasie, verander!
Rom 5:1 Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus;
Rom 5:2 deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.
Rom 5:3 En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk,
Rom 5:4 en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop;
Rom 5:5 en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.
My vriend/in, ek weet nie wat dit is waarmee jy op hierdie stadium worstel nie…dalk ‘n kind of ander geliefde wat deur die dood weggeneem is, huwelik wat stukkend is of alreeds in egskeiding geïndig het, finansies of besigheid wat in ‘n gemors is, ens…al wat ek weet is dat ons enigste hoop in Jesus Christus is, wie self hierdie pad van verdrukking op aarde moes stap. Ons troos lê daarin dat hierdie lewe net tydelik is en dat daar iets veel beter vir ons wag aan die anderkant…daar waar daar geen traan of hartseer meer sal wees nie en waar ons ons geliefdes, wie in die Here gesterf het, weer sal ontmoet.
Ek bid dat daar êrens in hierdie artikel darem ‘n woord van vertroosting vir iemand sal
Wees.
Die Here seën jou en onthou dat Jesus baie lief is vir jou en met oop arms staan en wag dat jy hierdie pyn na Hom toe bring!
Vrede vir jou
ALLE EER AAN ONSE HERE JESUS CHRISTUS EN SY HEILIGE GEES WIE GETROU IS OM ONS TE ONDERRIG EN LEER IN DIE WAARHEID!
Ernest Phillipson
ecp@oicb.co.za