(Bid hierdie gebed HARDOP sodat satan en sy geeste op die eiendom ook kan hoor wat jy/julle verklaar oor jou/julle eiendom)

“Vader, ek/ons kom na U toe in die magtige Naam van Jesus Christus! Ons dank U dat die Bybel bepaal waar twee of drie in U Naam vergader is, is U in hulle midde. U is welkom hier Here Jesus, want ek/ons onderwerp my/ons aan U, en proklameer dat ek/ons en my/ons eiendom aan U behoort, en met hierdie gebed dra ek eiendsomreg van hierdie eiendom oor aan Jesus Christus. Dankie dat U hierdie stukkie grond op hierdie tydstip van U groot raadsplan aan my/ons toevertrou het.

Here, namens my/onsself en vorige eienaars en/of huurders en/of inwoners van hierdie grond, bely ek/ons die volgende dinge voor U:

1.    Ek/Ons bely enige vorm van bloedvergieting Here Jesus, en ek/ons  vra, indien daar enige bloed is wat van hierdie grond af uitroep in die geestesdimensie (Gen. 4:10 en Num. 35:33), dat U dit nou sal stilmaak met U kosbare bloed wat op Golgota gevloei het.

2.    Ek/Ons bely enige vorm van seksuele losbandigheid wat hier op die grond plaasgevind het, hetsy voorhuwelikse seks, buite-egtelike verhoudinge, homoseksualisme of pornografie (Jer. 3:2 en Lev. 19:29), en Here Jesus, ek/ons vra dat U die grond nou sal heilig met U kosbare bloed.

3.    Here Jesus, ek/ons bely enige goddelose kontrakte wat op hierdie grond gesluit was met die koninkryk van duisternis, hetsy deur of met toordokters, mediums/spiritiste, sataniste of Vrymesselaars (Jes. 24:5,6), en ek/ons vra dat U dit totaal sal uitkanselleer in die geestesdimensie.

4.    Ek/Ons bely enige vloeke wat uitgespreek was oor die grond (Spr. 18:21), en Here Jesus, ek/ons vra dat U enige vloeke nou sal breek en vervang met U seëninge op die grond.

5.    Ek/Ons bely enige vorm van afgodery wat op die grond beoefen was (Eseg. 6:4-6; Eseg.14:6) en ek/ons vra dat U aan ons sal uitwys wat is vandag nog op die eiendom wat U nie hier wil hê nie, sodat ek/ons dit kan verwyder en vernietig in Jesus Christus se Naam.

Dankie Here Jesus dat die vyand voortaan nie meer hierdie dinge teen my/ons eiendom mag gebruik nie. Nou vra ek/ons dat U die kosbare bloed van Jesus Christus sal laat vloei van hoekpaal tot hoekpaal en die grond en my/ons geboue nou in die gees sal reinig in Jesus se Naam. Ek/Ons vra ook nou dat U U engele vir my/ons sal opdrag gee (Ps. 91:10-12) en sal opstel by elke hoekpaal, by my/ons hekke, in, en rondom ons huis. Ek/Ons vra ook dat U die engele skouer teen skouer sal plaas teen my/ons grensdrade af, dwarsoorkruis in die lugruim bokant die eiendom, en selfs onderdeur in die geestesdimensie, sodat hierdie eiendom ‘n lig sal wees vir die nasies rondom my/ons.

Here Jesus, nou vra ek/ons dat, indien daar iemand op hierdie eiendom is of sal kom wie se gees nog nie aan U behoort nie, een van twee dinge sal gebeur naamlik:

1.    Dat daardie persoon eerstens op sy knieë sal val en sy hart vir Jesus Christus sal gee; of

2.    As hy met verkeerde bedoeling op my/ons eiendom aankom, dat hy sal omdraai en wegvlug, omdat U lig sy duisternis sal verdryf.

Here Jesus, ek/ons vra ook dat U my/ons familie nou sal verseël met U kosbare bloed terwyl ek/ons enige simbole van afgodery op my/ons eiendom nou verbrand en/of vernietig. Stel asseblief U engele rondom my/ons op terwyl ek/ons hier besig is, in Jesus Naam. Nou weerstaan ek/ons die duiwel en ek/ons sê: “Satan, in die Naam van Jesus Christus ontneem ek/ons jou en jou bose geeste enige wettige reg wat julle nog gedink het julle hier op my/ons eiendom het. Julle sal nou verdwyn in Jesus Christus se Naam, want daar is geskrywe as ons ons aan God onderwerp en ons weerstaan julle, sal julle van ons af wegvlug (Jak. 4:7)”

Here Jesus, baie dankie dat U nou my/ons eiendom vir my/ons heilig en skoonmaak, en ek/ons vra ook dat U my/ons van nou af deurlopend sal lei en leer en sal wys wat is daar op my/ons eiendom wat U nie hier wil hê nie, en dat U ook op ‘n daaglikse basis aan my/ons sal uitwys as ek/ons iets nuuts wil aankoop, of ek/ons dit mag koop, en of ek/ons dit eerder moet los. (Spr.3:5,6).

Baie dankie Here Jesus vir U kosbare liefde en genade, ek/ons loof en prys en aanbid U.

Amen!”