Die standaard siening oor hierdie aspek, is: NOOIT! God kan nie gemanipuleer word deur dit wat ons van Hom vra nie. Ons kan nie deur ons vrae die almagtige God in ‘n blik wil gaan druk en Hom daardeur probeer voorsê wat Hy moet doen nie! Ek stem eenhonderd persent met hierdie siening saam, behalwe vir één ding – die Bybel sê ek mag, nee, soms sê die Bybel selfs ek móét van Hom vra, maak nie saak waaroor nie. Omdat Hy my Hemelse Pappa is, mág ek van Hom vra, as ek siek is, as ek nie lekker voel nie, as my finansies op die koffie is, as ek iets nodig het, ensomeer. Daardie ou, bekende teksverse wat ons almal so goed ken, (Mattheus 7:7,8), steek sommer dadelik in my kop vas: “Bid (vra) en vir julle SAL gegee word.Want elkeen wat bid (vra) ontvang.” Ja, uiteraard is daar natuurlik perke aan wat ek van God wil vra en moet ek ook aanvaar dat, soos enige ander Vader, Hy van tyd tot tyd ook “Nee!” kan sê. En dan moet ek ook leer om in gehoorsaamheid sy “Nee”, te aanvaar en nie dikmond daaroor rond te loop nie.

Jesus stel dit selfs nog duideliker in (Mattheus 21:22): “En ALLES wat julle in die gebed vra, SAL julle ontvang AS JULLE GLO.” Maar sien, hier is nou ‘n voorwaarde aan gekoppel. Ek sal ontvang as ek vra – MITS ek glo dat ek sal ontvang. Met ander woorde as ek nie glo dat ek dit sal ontvang nie, sal ek nie. Dit sluit natuurlik iets in soos om te bid vir my gesondheid as my liggaam wil ingee. As ek nie glo dat Jesus my kan en wil, genees nie, help dit nie eens ek bid nie, want ek het geen geloof nie. Dit is dan nie God se skuld as ek nie gesond word nie, dit is net my eie ongeloof s’n. Jesus se gedagtes vir ons is gedagtes van vrede, voorspoed en om genees te wees. Satan is die een wat ons wil pynig, vernietig en doodmaak.

kan dit regtig so wees, vra jy, dat wonderwerke kan gebeur as ek daarom vra in Jesus se Naam? Baie beslis ja, as ek kyk na die woorde van Jesus in Johannes 14:12-14 : “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo – die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na My Vader gaan. En WAT julle OOK AL in My Naam mag vra, dit SAL Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. As julle IETS in My Naam vra, SAL Ek dit doen.”Kan ons dit nog duideliker uitgestippel wil hê? Ek mag dus vra vir ‘n wonderwerk in my, of my vrou, of my kinders, of enigiemand anders se lewens en Jesus se belofte – want elke keer wat Jesus die woordjie “SAL” gebruik, is dit ‘n belofte – is dat Hy dit vir ons sal doen of gee. Onthou dat Jesus nog nooit verander het nie, en ook nooit sal verander nie. (Hebreërs 13:8) sê tog baie duidelik vir ons so: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid”. Daar bestaan dus nie ‘n wonderwerk wat ek nie voor mag vra nie, want watter werke het Jesus gedoen? Hy het mense genees, hulle verlos van demone in hulle lewens, hulle lewens herstel ensomeer. Ons opdrag is dus om dieselfde te doen, maar uit ons eie kan ons dit nie doen nie, ons moet Hom vra om dit te doen.

Ek herhaal, daar is wel sekere voorwaardes aan gekoppel as ek van God wil vra. Kom ons kyk hier na die woorde van Jesus in (Johannes 15:7 en 16): “As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra NET WAT JULLE WIL Hê, en julle SAL dit verkry.” Sien jy die voorwaarde? Ek moet “IN” Jesus bly en Sy woorde ín my hê, voordat hierdie dinge sal gebeur wat ons vra. Dit beteken dus eenvoudig dat ek sal LEWE SOOS WAT JESUS WIL Hê ek moet lewe. My geloof moet dus ‘n lewenswyse wees, en nie net iets wat ek een dag in die week uithaal en afstof vir ‘n uur, net om dit dan weer vir ‘n week lank te bêre nie. Eers as ek 24 uur ‘n dag, 7 dae ‘n week met Jesus en Sy Woorde – soos vervat in die Bybel-in my lewe besig is, sal ek die dinge begin verkry wat ek vra.  Hoe anders kry ek Jesus se woorde IN my, as ek nie Sy Woord lees nie? Watter verskil is daar tussen ‘n Bybel wat met kettings en slotte toegesluit is, en die een wat mooi op my bedkassie lê en lekker stof opgaar, maar nooit oopgemaak word nie? In beide Bybels bly die inhoud vir die eienaar daarvan ‘n geheim.

Maar wanneer ek daardie wonderlike Boek oopmaak en die dinge daarbinne kom lê “IN” my hart, en dis nie meer vir my ‘n geheim nie, gaan ek ook die volgende wonderlike woorde oor hierdie aspek raaklees:“Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, ALLES wat julle die Vader sal vra in My Naam, SAL Hy julle gee. Tot nou toe het julle niks in My Naam gevra nie. Bid en julle SAL ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.”(Johannes 16:23,24). Dit wil dus vir my nogal lyk of Jesus weet ons kom nie behoorlik in Sy Woord nie, want daar sê Hy baie duidelik ons het tot nou toe nog niks in Sy Naam gevra nie. Die implikasie is dus duidelik dat ons tot dusver nie ontvang het nie, juis omdat ons nie in Sy Naam gevra het nie.

Weet jy waar lê die groot probleem, vriend? Die feit dat ons nie almal met alles in ons probeer om ‘n lewende persoonlike verhouding met Hom aan te knoop nie. Want die oomblik as ek ‘n persoonlike verhouding met Jesus gaan aanknoop, gaan ek Sy Woord graag “IN” my wil hê en gaan ek “IN” Hom wil bly. Hoekom? Wanneer ek ‘n persoonlike verhouding het met iemand, hetsy my pa, my ma, my broers en susters of vriende, verleen daardie persoonlike verhouding mos ‘n vrymoedigheid aan my om daardie persoon te nader en te VRA as ek iets nodig het, is dit nie? Presies dieselfde is van toepassing op my en Jesus. Kyk hoe duidelik stel die apostel Johannes dit in

1 Johannes 5:14,15 : “En dit is die VRYMOEDIGHEID wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra VOLGENS SY WIL. En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat, WAT ONS OOKAL VRA, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het.” Is dit nie wonderlik nie? Maar hier is weer ‘n voorwaarde: Ek moet vra “volgens Sy wil”. Hoe doen ek dit, sal jy wonder? Wanneer ek daardie persoonlike verhouding met Jesus het, en in Sy woord begin inbeweeg, en Hy in my is, gaan ek al hoe meer besef hoe en wat HY WIL Hê ek moet vra en gaan ek dus sekere dinge vir Hom begin vra “volgens Sy wil”.

Die antwoord lê dus uit en uit opgesluit in daardie persoonlike verhouding met Jesus. Het jy al met Jesus daardie persoonlike verhouding aangegaan vriend? Het jy Hom al met ‘n eenvoudige gebed in jou lewe ingenooi as Redder, Verlosser en Saligmaker, al gaan jy al tagtig jaar lank twee keer op ‘n Sondag kerk toe? Want as jy dit doen of al gedoen het, gaan jy wéét, jy mág van God vra, en Hy SAL jou vrae antwoord – VOLGENS SY WIL en OP SY TYD, níé op jou tyd nie! Vriend, ek nooi jou uit, as jy Jesus nog nie persoonlik ontmoet het nie, doen dit nou, en begin op ‘n wonderlike nuwe pad met Hom loop waar jy kan begin leer om van Hom sekere dinge te vra “volgens Sy wil” en om dan die wonderlike ervaring te hê dat Hy géé wat jy gevra het, keer op keer op keer.

Die Vader wíl sonder twyfel vir ons gee wat ons vra, hoekom anders het Hy Dawid gelei om die volgende woorde in Psalm 34:7 te skryf: “Vertrou op die Here, en doen wat goed is, bewoon die aarde en beoefen getrouheid, en verlustig jou in die Here; dan SAL Hy jou gee die begeertes van JOU hart” Sien jy egter eers weer die paar voorwaardes? (1) Vertrou op God, (2) doen goed en bly weg van die kwaad af, (3) wees getrou, nie net teenoor God nie, maar ook teenoor jou medemens, (4) verlustig jou in God se geselskap, met ander woorde deur middel van daardie persoonlike verhouding, en wat gaan dan gebeur? Hy SAL vir jou die begeertes van JOU hart, met ander woorde, dit wat JY gevra het, géé, want Hy is ‘n barmhartige en liefdevolle Vader wat vir Sy kinders baie graag presiesd it wil gee wat hulle vra. Mits hulle op Sy leiding wag.

Het JY al vir God die belangrikste vraag van ALMAL gevra liewe vriend? Watter vraag? Die volgende een:

“Jesus, SAL U asseblief ook in MY hart kom woon?”

Die keuse – is JOUNE!

tiaan gildenhuys – 18/07/2002