As ek en jy bely dat ons wedergebore kinders van God is en Jesus Christus as ons Verlosser en Saligmaker aangeneem het, hoekom sukkel ons dan om geloof te hê in Hom en Sy vermoeë om te genees en te voorsien? Hoekom sal ons liewers stoei met ons eie probleme, as om dit vir Hom oor te gee? Hoekom wil ons self ons lewens, bedienings of besighede bestuur, as ons dit vir Hom kan gee met die wete dat Hy al die kennis en wysheid besit?

In Luk 18: 1 –6, vertel Jesus die verhaal van die weduwee wat by die onregverdige regter gekom het en hom bly karring het totdat hy haar, regverdiglik, gelyk gegee het. En in vers 7-8 sê die Here dat hoeveel te meer sal die Vader nie dan aan Sy uitverkorenes, reg laat geskied nie?

Luk 18:7 Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval?

Luk 18:8 Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?

Die klem lê egter daarop dat Sy kinders “dag en nag” tot Hom moet roep en geloof moet hê dat Hy ‘n waarmaker van Sy woord is!!!

Jer 1:12 Toe sê die HERE vir my: Jy het goed gesien, want Ek is wakker oor my woord om dit te volbring.

Maar my liewe vriend/in, het ek en jy die geloof en deursettingsvermoeë om dag en nag by God se voete te lê en Hom te vertrou vir die uitkoms, of het ek en jy nou al ook so “plastic” geraak, dat ons ook die kitsoplossings soek? Want jy sien, in Lukas 18 vra die Here of Hy geloof sal vind as Hy kom en ons almal weet dat Sy koms nie ver is nie – hallelujah!!!! Maar hoe gaan Hy my en jou vind as Hy kom?

Heb 11:1 Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.

In Joh 5: 1-14, vertel Johannes van die voorval by die poele van Batesda waar Jesus die man gekry het wat al 38 jaar aan sy siekte gely het. Jesus vra hom toe of hy wil gesond word en die man het toe eers al die verskonings aangevoer oor hoekom hy nie in die bad kan kom as die engel die watter roer nie – nes ons ook mos maar vandag doen om ons sonde of ongeloof te regverdig! Die oomblik egter toe Jesus vir hom sê om op te staan en te loop, het hy onmiddelik sy goed opgetel en geloop!  Die eerste ding wat die Jode vir hom sê is dat hy nie sy goed op ‘n sabbat mag ronddra nie, aangesien dit daardie dag die sabbat was. Net so is die wêreld baie vinnig om vandag vir ons te sê dat dinge nie so of so kan werk nie, maar eerder op die manier wat hulle dit sien.

Die vraag is egter, wie gaan jy vertrou? Want jy sien, die oomblik toe Jesus vir hom sê “staan op”, het daar krag uit Jesus se mond gegaan wat onmiddelike genesing gebring het!!! En daardie selfde krag is vandag nog tot my en jou beskikking deur die geskrewe Woord van God, maar dan moet ek en jy die Woord ken en bereid wees om dit te spreek oor ons omstandighede of siekte!!!

Jos 1:8 Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel.

Volgens die Skrif in Jos 1: 8, moet die Woord van die Here dag en nag in ons mond en gedagtes wees, sodat ons nougeset daarvolgens kan handel en dan is die belofte daar dat ons sal voorspoedig wees en met goeie gevolg handel – die teenoorgestelde is egter ook waar;  dat ons nie voorspoedig sal wees en met goeie gevolg sal handel as ons nie die Woord ken nie!!!

Dit is so maklik om vandag dokter toe te hardloop as daar siekte of krankheid in ons laer is of bankbestuurder toe as die vyand ons finansies aanval, instede van na die “Gewer” van alle goeie dinge toe.

Jas 1:17 Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.

Wat ons egter nie besef nie is dat die meeste medikasie wat die dokters voorskryf, slegs die simptome behandel en nie die oorsaak uitroei nie, maar ons vertrou eerder die dokter as hy sê: “neem 2 pilletjies 3 maal per dag vir 10 dae en jy sal gesond wees”, –as wat ons die Woord van die Here vertrou wat sê dat Jesus se wonde reeds vir my die genesing gebring het:

Isa 53:4 Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte—dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was.

Isa 53:5 Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.

Die vraag is nou, hoekom glo ons veel eerder die dokter as die Woord van God? My opinie is dat dit afhang van ons  “mindset” en ook omdat ons eerder vertroue het in wat ons kan sien as in die onsienlike.

Rom 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

As ons dan sê dat ons gelowiges is en as geloof dan die bewys is van die dinge wat ons nie kan sien nie, hoekom sukkel ek en jy dan om genoeg geloof te hê in die onsielike Vader by wie niks onmoontlik is nie?

Eph 3:20 En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk,

Want selfs oor ons finansies en voorsiening, is daar geskrywe:

Psa 34:10 (34:11) Kaf. Die jong leeus ly armoede en het honger; maar die wat die HERE soek, het geen gebrek aan enigiets nie.

Pro 10:3 Die HERE laat die regverdige nie honger ly nie, maar die begeerlikheid van die goddelose stoot Hy weg.

Jer 29:11 Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.

Maar hoe kan ek en jy aan die vyand sê: “daar is geskrywe”, as ons nie weet wat geskrywe is nie, omdat ons nie bemoeienis met die Skrywer van die Bybel maak nie? Want sien, Jesus het elke versoeking weerstaan deur te sê: “daar is geskrywe”. En die Woord van God het vandag nog net soveel krag as daardie dag toe Jesus vir daardie man gesê het; “staan op en loop”!!! So my vriend, hoe lank wil ek en jy nog wag dat iemand ons in die poel moet kom sit, voordat ons genees word van ons kleingelowigheid en ongeloof?

Terwyl die Woord van God reeds sê:

Mar 16:17 En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek,

Mar 16:18 slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.

Joh 14:12 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo—die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.

So my volgende vraag is: “hoeveel mense het jy al uit die dood opgewek, vir hoeveel siekes het jy gebid en hulle het genees?

Jy sien, want die Woord sê verder in Markus 16: 20 dat die Here sal saamwerk en die tekens bevestig as ek en jy die geloof het en gaan begin uitgaan en doen!

Mar 16:20 Maar hulle het uitgegaan en oral gepreek, en die Here het saamgewerk en die woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het. Amen.

So kind van God, dissipel (navolger) van Jesus, waar is my en jou geloof in hierdie Almagtige God wat ons dien? Hoekom gaan die wêreld se mense eerder na die dokter of die sangoma vir hul genesing as na my en jou vir gebed? Kan hulle die krag van die Gees in ons lewens sien?

Rom 8:11 En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

So die krag van God is reeds binne ons deur die werking van die Gees!!! Awesome!!! So die krag is nie uit my nie, maar uit die Here wat self die werk  doen. Maar ons moet bereid wees dat Hy ons hande en mond kan gebruik!

Ons groot opdrag as dissipels bly steeds om dissipels te gaan maak van alle nasies en hulle te leer om alles te onderhou wat ons van Jesus af ontvang het:

Mat 28:19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

Maar hoe kan ons gehoorsaam wees aan hierdie opdrag as ons self nie eers daarby kan bly nie en hoe sal ons ander kan leer as hulle nie die voorbeeld by ons sien? Is jy, soos ek, nog kieskeurig om te bid net vir wie jy wil of het jy al die gesindheid van Jesus aangeneem, deur simpatie te hê vir elkeen wat in nood is?

Php 2:5 Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.

Luk 6:18 …wat gekom het om Hom te hoor en van hulle kwale genees te word; en die wat gekwel was deur onreine geeste, is ook genees.

Luk 6:19 En die hele skare het probeer om Hom aan te raak, omdat krag van Hom uitgegaan het, en Hy het almal gesond gemaak.

As ons gaan kyk na die verhaal van die vrou wat 12 jaar aan bloedvloeiing gelei het, soos geskryf staan in Luk 8:43-46, dan sien ons dat sy al haar geld op dokters spandeer het en niemand kon haar help nie! Maar toe sy die geloof kry om net aan Jesus se kleed te raak, het sy onmiddelik genees!! Wat ons nie besef nie, is dat een van die maniere waarop die vyand ons finansies aanval, is deur dokters en medikasie omdat ons so maklik die siekte “aanneem” (soos ‘n vriend van my dit stel) en die vloek oor ons uitspreek instede van om met ons mond te verklaar: “Here dit is nie myne nie!” en “satan daar is geskrywe…”

Wat ek op hierdie punt baie duidelik wil stel, is dat ek nie teen dokters en medikasie gekant is nie, want die Here het hulle die wysheid en kennis gegee om sekere kwale te diagnoseer en sekere operasies te doen wat kan help met die herstelproses. Die genesing bly egter uit God se hand!!!

Die probleem wat ek het, is dat mense meer vertroue in ander mense en die wêreld se dinge stel, as in die Woord van God. Wat nog erger is, is dat mense nie meer self hul Bybels lees nie, maar eerder die leraar of iemand anders vra om die Woord uit te lê, as om die Gees van God te vra!!!

Mar 16:14 Later het Hy aan die elf self verskyn toe hulle aan tafel was, en Hy het hulle hul ongeloof en hardheid van hart verwyt, omdat hulle die wat Hom ná sy opstanding gesien het, nie geglo het nie.

My liewe dissipel van Jesus, die verskil tussen ons geloof en ander gelowe is dat ons Here HET opgestaan!!! Ons dien ‘n lewende God en Sy woord is nog net so kragtig en lewendmakend soos wat dit was in die dae toe Jesus hier op aarde gewandel het!!! Wanneer gaan ek en jy begin leer om saam met Jesus op die water te loop en ons oë slegs op Hom te fokus en nie op ons omstandighede nie. Want ons God het nog nooit verander nie en Hy is dieselfde nou tot in alle ewigheid!!!

Mal 3:6 Want Ek, die HERE, het nie verander nie; en julle, kinders van Jakob, is nie verteer nie.

Heb 13:8 Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

Dissipel van Christus, ek en jy het ‘n opdrag gekry en die Here wil ons nog baie meer kragtig gebruik, as ons net ons geloof en vertroue in Hom wil stel! Die koste hieraan verbonde is baie hoog, want die Here vra alles van my en jou. Daar was nie ‘n ”less 50%” –uitverkoping toe ek en jy die dag tot bekering gekom het nie. Dis alles of niks!!!….het jy al werklik die koste bereken???

Heb 10:38 Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie.

Heb 11:6 En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.

Mag die Here my en jou hierin lei en in die geloof versterk, sodat ons die krag van Sy woord kan gaan uitleef in ‘n stukkende wêreld, sodat daar kan genesing plaasvind op alle gebiede en vir almal wie dit nodig het. Bly in Sy woord, want daarin alleen is krag!!!

Joh 8:31 En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.

Mag die eer altyd aan die Here behoort en mag Sy vrede met jou wees…nou en tot in alle ewigheid!!!

MARANATHA – JESUS KOM WEER!

Ernest Phillipson

ecp@oicb.co.za