“Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.”  (Spreuke 18:21)

Hierdie is ‘n interessante teksvers, en word so baie deur mense aangehaal, maar wat beteken dit werklik? Dit beteken eenvoudig dat ons met ons tonge fisies dood kan spreek, of lewe kan spreek oor iemand of ‘n saak.  En “dood spreek”, sluit ook in gewone ou menslike skinder.

In my omgang met kinders van God, het ek die afgelope ruk aan die volgende twee “definisies” van skinder gekom, wat dalk vir jou ook iets kan beteken, naamlik: indien dit wat ek aan persoon A vertel oor persoon B, gemelde persoon B in ‘n negatiewe lig sal stel by persoon A, in hoe ‘n geringe mate ookal, dan skinder ek oor persoon B. Wanneer ek dus met persoon A begin praat, moet ek myself die vraag afvra: “Sal dit wat ek nou aan persoon A gaan vertel, veroorsaak dat persoon A vir persoon B net dalk voortaan in ‘n negatiewe lig gaan sien?”  Indien die antwoord ja is, moet ek my eenvoudig fisies weerhou daarvan om dit aan persoon A te vertel.

Die tweede definisie, is dat ek skinder wanneer ek persoon B se getuienis “steel”. Hoe doen ek dit?  Kom ek gebruik die volgende voorbeeld: Koos drink baie en slaan sy vrou gereeld.  Hy gaan sien ‘n vriend, Piet en deel die probleem met hom.  Intussen ontmoet Koos die Here en God bevry hom geheel en al van die probleem. Piet, wat die hele pad saam met Koos geloop het, vertel vir Gert in presiese detail wat Koos se vorige probleem was en wat met hom gebeur het, want hy is baie opgewonde oor SY aandeel in Koos se bevryding..  ‘n Paar dae later loop Piet vir Gert raak en in sy opgewondenheid, wil hy vir Gert vertel wat God vir hom gedoen het, en Gert sê: “O, ek weet dit reeds, Piet het my vertel.”  Wat het Piet dus gedoen?  Hy het Koos se getuienis “gesteel”, hy het oor Koos geskinder!  Wat moes Piet eerder gedoen het, vra jy?  Hy moes net vir Gert gesê het, indien Gert daaroor sou vra: “Weet jy, ou Koos het ‘n probleem gehad, maar prys die Here dat Hy hom van alles verlos het!  Hou net aan bid dat die Here Koos veilig op sy nuwe pad sal lei.”  Vriend, so moet ek en jy in elke geselskap waarin ons ons bevind, die vraag afvra of ek in daardie geselskap enige persoon waaroor ons gesels het, se getuienis steel, en of ons daardie persoon moontlik in ‘n negatiewe lig kan stel by enigiemand anders wat daar teenwoordig is.  Indien wel, moet ek dit NIE spreek nie. Weet jy, al bedoel ek dit hier diep binne my ook HOE goed!

So hoor ek ‘n ruk gelede die volgende staaltjie, wat die hartseer rondom skinder baie duidelik uitbeeld.  ‘n Ou vroutjie woon in ‘n klein plattelandse dorpie, waar sy bekend is daarvoor dat sy oor alles en almal skinder. Op ‘n dag gee sy haar hart vir die Here.  Baie opgewonde gaan sy na die predikant toe en vertel vir hom van haar besluit.  Sy vra hom toe ook wat sy moet doen om haar skinderstories van die verlede ongeldig te kan maak.  Hy gee haar toe opdrag om die volgende week een van haar hoenders te vang en aan hom te bring.  Sy maak toe so. Die predikant gee haar toe opdrag om die hoender die volgende week te slag en die vere in ‘n sak vir hom te bring.  So gesê, so gedaan.  Die volgende week is sy daar met die sak vere.  Daarop sê die predikant aan haar om in die dorpie se hoofstraat af te loop en die vere in die straat te strooi, wat sy dan ook doen.  Die volgende week is sy terug by die predikant om te hoor wat sy nou nog moet doen om ontslae te raak van die ou skinderstories.  Die predikant sê toe aan haar om die vere wat sy die vorige week gaan strooi het, weer op te tel.  Verontwaardig sê sy dat dit tog onmoontlik is!  Daarop is die predikant se antwoord aan haar: “So is dit ook met die skinderstories wat jy al die jare versprei het.”  Jy sien, dit is die hartseer van skinderstories, wanneer hulle gespreek is, is hulle uit en kan nie teruggetrek word nie.

Al wat dit werklik ongedaan kan maak, is totale vergifnis, soos Christus ons vergewe het.   Kyk ook hoe duidelik stel Spreuke 20:19 hierdie aspek vir ons: “Wie met kwaadsprekery omgaan, maak ‘n geheim openbaar; laat jou dus nie in met een wat sy lippe laat oopstaan nie.” Ons moet ons dus fisies nie eens ophou met iemand wat bekend is dat hy maklik stories versprei nie.

‘n Ander vers wat amper woordeliks dieselfde is, maar wat die hele oplossing hieroor openbaar, is Spreuke 11:13: “Die wat met kwaadsprekery omgaan, maak ‘n geheim openbaar, maar hy wat betroubaar is van gees, BEDEK ‘n saak.”

En ook die woorde van Spreuke 29:20: “Het jy ‘n man gesien wat haastig is in sy woorde? Vir ‘n dwaas is daar meer hoop as vir hom.”

En, ter afsluiting, die baie bekende ou woorde van Jakobus 1:19: “So dan, my geliefde broeders, elke mens moet GOU wees om te HOOR, STADIG om te PRAAT, stadig om toornig te word.”  Ek kan net vra, Here vergewe my vir die kere wat ek iemand se geheim geopenbaar het in stede daarvan om dit te bedek, vir die kere wat ek haastig was in my woorde, vir die kere wat ek haastig was om te praat en stadig om te hoor!  Lei my asseblief voortaan anders Here!

Vriend, kom ons begin leer om as kinders van God “betroubaar van gees” te wees en om mense se sake te BEDEK.  Kom ons wees mense wat met ‘n geheim vertrou kan word. En indien ons iemand tenagekom het met enige skinderstorie, moet ons daardie persoon om vergifnis vra, waarna ons die pad moet loop wat God wil hê ons moet loop.  Kom ons gebruik ons tonge om LEWE in mense se lewens te spreek, anders is die Bybel baie duidelik dat ons baie beslis uiteindelik die vrugte sal pluk van dit wat ons spreek.

 tiaan gildenhuys – 26/11/2001