Van die melk gespeen
Ek het onlangs ‘n droom gehad waarin die Here met my gepraat het oor die feit dat Hy wil hê dat ons op die punt moet kom in ons wandel met Hom, waar ons letterlik van die melk gespeen kan wees, sodat Hy met ons die “vleis” van Sy woord kan deel!
Ek het gedroom dat ek met ‘n klein toergroep in Israel was en dat ons êrens stop by ‘n winkel om ‘n paar inkopies te doen. Ek besluit om vir ons ‘n paar skaaptjops te koop om te braai daardie aand. Die pak vleis was gemerk met ‘n prys van 20 shekels, maar toe ek by die betaalpunt kom, besluit die bestuurder om my afslag te gee en hy tik toe net 19.80 op die kasregister. Dit is dan ook waar die droom ophou.
Toe ek wakker word uit die droom, pla dit my dat die man net 19.80 getik het en ek begin toe die simbole van die droom bepeins…skaaptjops en 19.80. Ek het nou al uit ondervinding geleer dat wanneer ek ‘n getal in ‘n droom kry, dan moet ek eerstens na die boek van Psalms toe gaan om te kyk of daar nie ‘n boodskap in is nie. Dit is dan toe ook wat ek doen:
Ps 19:8 Die bevele van die HERE is reg: hulle verbly die hart; die gebod van die HERE is suiwer: dit verlig die oë.
Nadat ek hierdie Skrif gelees het, verstaan ek toe dat die Here vir my iets wil sê oor Sy woord. Die eerste vers wat toe in my gedagte opkom, was Jos 1: 8:
Jos 1:8 Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel.
Dit is toe vir my duidelik dat die Here probeer sê dat baie van Sy kinders sukkel en worstel deur die lewe, omdat ons nie weet wat in Sy woord staan nie en ook nie weet hoé om Sy woord te gebruik om te kan staande bly teen die aanslae van die bose nie. Die Gees het my toe sommer ook herinner daaraan dat Jesus juis die Woord gebruik het om Satan teen te staan toe hy Jesus versoek het op die berg na Sy doop en periode van vas. Ons lees in Matt 4 en Luk 4 hoe Jesus elke versoeking teengestaan het deur vir Satan te sê: “daar staan geskrywe”. Ons lees ook in hierdie selfde dele hoé Satan dan ook die Skrif gebruik het om Jesus te probeer verlei. Só, dit is baie duidelik dat Satan ook weet wat geskrywe staan en daarom is dit ook belangrik om die Skrifte te ken, sodat wanneer die vyand jou met die Bybel aanval, jy ook soos Jesus sal kan sê: “Satan, daar staan ook geskrywe”.
In Numeri 14 lees ons hoé Moses ook dan God se woorde terug kwoteer aan Hom, toe God besluit het om die hele volk uit te wis, omdat hulle ongelowig en wederstrewig was deur nie die berig van Josua en Kaleb te glo oor die beloofde land nie, maar eerder die ander 10 geglo het wat ‘n negatiewe berig gebring het.
Num 14:17 Laat dan nou tog die krag van die HERE groot word, soos U gespreek het deur te sê:
Num 14:18 Die HERE is lankmoedig en groot van goedertierenheid, wat die ongeregtigheid en oortreding vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie, wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag.
Num 14:19 Vergeef tog die ongeregtigheid van hierdie volk na die grootheid van u goedertierenheid, en soos U hierdie volk van Egipte af tot hiertoe vergewe het.
Num 14:20 Toe sê die HERE: Ek vergewe, volgens jou woord.
Moses het baie duidelik geweet dat God nooit teen Sy eie woord sal gaan nie en dat elke woord wat God spreek, ‘n verbond is wat Hy by Homself sluit!
Ps 89:34 Ek sal my verbond nie ontheilig nie, en wat oor my lippe gegaan het, sal Ek nie verander nie.
God wil hê dat ons Sy woord moet bestudeer, sodat ons Hom kan leer ken en kan weet wat die gedagtes is wat Hy aangaande ons koester en ook om te weet wat die beloftes is wat Hy vir ons gegee het en om Hom te kan herinner daaraan!
Jes 62:6 o Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. o Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes—moenie rus nie
Jes 62:7 en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde!
Hierdie is ‘n “amazing” stuk Skrif waarin die Here ons uitnooi om Hom te herinner aan Sy beloftes en stel Hy dit ook duidelik dat ons Hom nie met rus moet laat daaroor nie…WOW!
Só het die Here ook met ons ‘n verbond gesluit oor ons kinders, maar ek wonder hoeveel kinders van die Here weet daarvan? Só hoé sal ons vir die Satan kan herinner aan wat daar geskrywe staan as hy ons kinders aanval, as ons nie eers weet van hierdie verbond wat God met ons het oor ons kinders nie?
Jes 59:21 Wat My aangaan, dit is my verbond met hulle, sê die HERE: My Gees wat op jou is, en my woorde wat Ek in jou mond gelê het, sal uit jou mond nie wyk nie, en ook nie uit die mond van jou kroos en uit die mond van die kroos van jou kroos, sê die HERE, van nou af tot in ewigheid nie.
In sy brief aan die Romeine, vra Paulus die vraag: hoe sal ons God kan aanroep as ons nie in Hom glo nie en hoe sal ons in Hom kan glo as ons nie van Hom gehoor het nie? Dan gaan hy verder en sê dat ons geloof kry deur die woord van God te hoor!
Rom 10:14 Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?
Rom 10:17 Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.
In sy eerste brief aan die Korinthiërs, berispe Paulus die gemeente , omdat hulle nog so vleeslik optree en sê hy dan ook duidelik vir hulle dat hy hul graag die dieper dinge van die Woord wou leer, maar dat hy nie kon nie, omdat hulle nog net met die melk van die evangelie gevoed kon word, as gevolg van hul onvolwassenheid.
1Kor 3:1 En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus.
1Kor 3:2 Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie,
Baie kinders van die Here redeneer te veel met mekaar oor of ‘n betrokke deel in konteks gelees moet word en of jy die spesifieke vers kan lees en verstaan net soos dit daar geskryf staan en ook heeltemal op sy eie. Sodoende kom hulle nooit op die punt waar hulle die vyand kan teen staan deur die Woord van God teen hom te gebruik nie. In Jesaja kry ons egter die besliste en finale antwoord oor hoé God wil hê dat ons die Bybel moet lees.
Jes 28:9 Vir wie wil hy dan kennis leer, en vir wie wil hy die openbaring verstaanbaar maak? Vir die wat van die melk gespeen, wat van die moederborste weggeneem is?
Jes 28:10 Want dit is gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie.
En as ons na die Nuwe Testament gaan, dan sien ons dat Paulus ook net so duidelik was daaroor:
2Kor 1:13 Want ons skryf aan julle niks anders as wat julle lees of ook verstaan nie, en ek hoop dat julle dit ook tot die einde toe sal verstaan,
Dus kan ek die Bybel lees net soos dit geskryf staan in die konteks daarvan en ook elke vers op sy eie!
Paulus stel dit baie duidelik aan die gemeente in Efese dat ons stryd hier op aarde nie teen mense is nie, maar teen die bose geeste in die lug. Daarom kan ek en jy maar vergeet om hierdie oorlog in die vlees te baklei. As ons dit nie geestelik gaan veg met die Woord van God nie, dan gaan ons sleg tweede kom en maar redelik in die modder rondploeg ons hele lewe lank hier op aarde.
Ef 6:12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.
2Kor 10:3 Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie;
2Kor 10:4 want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp,
2Kor 10:5 terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,
Dit is dus duidelik dat God soveel meer vir ons beplan en ons reeds volkome toegerus het deur die krag wat ons het in Jesus Christus, om die lewe en oorvloed te kan geniet, alreeds hier op aarde. Dit help veel dat jy vir jou die beste geweer aanskaf om jouself mee te verdedig, maar jy weet nie hoe om dit te gebruik of hoe dit werk nie. Ons hét reeds die beste wapen in ons besit, maar as ons nie weet wat daarin geskrywe staan, of nie in ‘n persoonlike verhouding met die Skrywer daarvan is nie, dan beteken die Bybel vir ons absoluut niks nie en dan kan ons dit maar net sowel saam met die Huisgenoot op die boekrak bêre, want nie die Huisgenoot of ‘n geweer gaan die oorwinning vir jou behaal nie!
Kind van God, ons hemelse Pappa wil ons só graag met die skaaptjops en “steaks” van Sy woord voed, maar ons moet begin oorslaan vanaf melk na vaste spyse toe! Ons kan nie vir ewig babatjies in die geloof bly nie, dit is tyd dat ons begin verantwoordelikheid neem vir ons geestelike groei en begin om in te delf in die lewende woord van God.
Heb 5:13 Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is.
Die tyd het aangebreek dat ons moet besef dat God se woord onveranderlik is en vandag net só kragtig as die dag toe Hy dit gespreek het!
Heb 4:12 Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.
Jes 55:11 so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.
Mag die Here my en jou ‘n nuwe honger en dors vir Sy woord gee en ons deur Sy Gees onderrig om die diepte en krag daarvan te verstaan, sodat ons dit effektief teen die aanslae van die Bose kan gebruik!
Vrede en seën!
ernest phillipson
ecp@oicb.co.za