Die afgelope week nou al, kry ek myself dat hierdie vraag konstant by my opkom. Dit het begin by ‘n gedig wat die Here my een oggend laat skryf het terwyl ek bo op die berg was om die shofar te blaas. (Ek plaas die gedig aan die einde hiervan bloot ter wille van die boodskap daarin)

Ek het ook later daardie selfde oggend ‘n gesprek met ‘n kennis in die gym gehad oor die huidige amok op internasionale aandelemarkte en watter impak dit op alle lande sal hê. Ek weet ook al geruime tyd dat hierdie persoon nog nie wedergebore is nie en nadat ek van die eindtyd­-profesieë met hom gedeel het, vra ek hom wanneer hy ‘n keuse gaan maak om Jesus aan te neem. Sy antwoord: “ek weet ek moet, maar ek het nog ‘n paar “issues” waaraan ek werk”.

Nou my vraag aan jou vandag my vriend, is: “Waarmee is jy besig?”

Na hierdie gesprekke in die gym en terwyl ek oppad was na my besigheid in Upington, het hierdie vraag heeltyd deur my kop gemaal en het die Here my baie attent gemaak op mense se handelinge en gesprekke. Party was besig met besigheidstransaksies of met die aktiwiteite van die naweek, ander was besig om hul luukse speelgoed te vervoer tot by plekke waar hulle dit kan geniet. Ander bespreek die komende rugby toernooi en ander beraam planne om die Bulle en Leeus oor twee weke op Loftus te gaan kyk, want dit gaan mos nou ‘n bul-”game” wees ens. ens.

Op Upington slaap ons by vriende van ons se gastehuis wie se skoonseun vir lank in Israel gebly het en nou ‘n bediening het om mense te leer Hebreeus praat en skryf. Terwyl ek en my vriend wat saam met my gery het, so langs die braaivleisvuur sit, sit en dink ek aan my eie besigheid en die paar mense wat nou geld daar verskuldig is en ek bedink toe sommer my eie bediening hier onder in Mosselbaai..en die vraag bly by my opkom: waarmee is ons besig??

Nadat ons van Upington af teruggekeer het en terwyl ek saam met vriende weer Sondag op die berg is om shofar te blaas, lees ek Kolossense 3 en weer begin die Here met my praat oor die dinge waarmee ons besig is. Nadat ek klaar gelees het, plaas ek hierdie Skrif op ‘n whatsapp-groep en onmiddelik “reply” my vriend langs my met Skrif wat op daardie oomblik in sy kop was.

Kol 3:1  As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit.

Kol 3:2  Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.

Kol 3:3  Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.

 

My vriend se Skrifgedeelte was:

 

Mat 6:33  Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

Onmiddelik verstaan ek toe wat Vader besig is om vir my te vra: “Is ons werklik besig om Hom te soek bo alles of is ons te besig met ons eie dingetjies dat ons besig is om Hom totaal te mis?”

As ons na die tekens van die tye kyk en werklik glo dat Jesus se koms op hande is, hoekom is ons dan nie besig om alles in te sit om Hom te soek met ons hele wese nie? Hoekom is daar nog soveel ander dingetjies wat ons gedagtes besig hou en wat ons toelaat om ons tyd te steel…watter ewigheidswaarde het die dinge waarmee ons onsself besig hou?

Die Skrif is tog duidelik:

1Kron 28:9  En jy, my seun Salomo, ken die God van jou vader en dien Hom met ‘n volkome hart en met ‘n gewillige siel, want die HERE deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes. As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind; maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verstoot.

2Kron 15:15  En die hele Juda was verheug oor die eed, want hulle het met hul hele hart gesweer en met hul hele wil Hom gesoek; en Hy het Hom deur hulle laat vind, en die HERE het hulle rus verskaf rondom.

As ons die Here met ‘n opregte hart soek, sal Hy Hom deur ons laat vind, maar ek het hierdie naweek opnuut besef dat bitter baie mense graag die seën van die Here soek, maar ons is nie besig om Hom te soek vir wie Hy is nie! Ons loop dus die gevaar dat wanneer die verdrukking regtig intens gaan word, ons dalk na die Here sal wil soek en ons Hom dan nie sal vind nie!

Spr 1:28  Dan sal hulle na my roep, maar ek sal nie antwoord nie; hulle sal my soek, maar my nie vind nie.

Ek dink ons Pappa in die hemel se hart is stukkend oor die huidige toestand in hierdie wêreld en oor die verhardheid van die mens se hart…en dit sluit kinders van die Here in.

Terwyl ons oppad was Upington toe, het ons geluister na ‘n “teaching” van ‘n prediker in Kuruman wat beweer dat hulle die volle waarheid verkondig. Die lering gaan oor die ewige lewe en die ewigheid en beweer hy dan ook dat dit op hierdie aarde sal wees, terwyl dit nie strook met Opbaring 20 nie. Ek dink toe ook daaraan dat daar soveel leringe en leermeesters daarbuite is wat beweer dat hulle die volle waarheid verkondig en soveel mense word verlei, omdat hulle dit net soos soetkoek opeet en nie self die Skrifte ondersoek nie en ook nie die Skrifte ken nie. Hierdie is hoofsaaklik as gevolg van die vloek waarmee meeste van ons groot geword het in die tradisionele kerke, waar ons maar net Sondae kerk toe gegaan het, sodat die dominee vir ons kan vertel wat staan in die Bybel. Wat hartseer is, is dat daar vandag nog mense is wat só meedoen!

Paulus het egter al menige jare terug gewaarsku dat dit so sal wees in die laaste dae, waarin ek glo dat ons nou leef.

1Tim 4:1  Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang

1Tim 4:2  deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete,

En ook het hy daardie tyd al gewaarsku dat mense meer verknog sal wees aan hul besittings en meer tyd en energie daaraan sal spandeer, as aan die dinge van die Here:

2Tim3:1  Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom.

2Tim 3:2  Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig,

2Tim 3:3  sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie,

2Tim 3:4  verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God;

2Tim 3:5  mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.

Wat het dus dan nou geword van ons Eerste Liefde? Is dit dalk dat dit te goed gaan in ons land dat die mense nie besig is om êrns te maak met ons Jesus nie, of is dit omdat die mense dink dat daar nog baie tyd is en dat môre nog ‘n dag is? In die gym waar ek oefen, is die volgende plakkaat opgeplak:

God created seven days in a week and “someday” is not one of them

Dit is baie duidelik dat die vyand ‘n intense aanval loods op die kind van die Here se tyd en gedagtes. Terwyl ek en my vrou vandag met ‘n ander vriend praat oor hierdie onderwerp van waarmee ons besig is, sê sy dat sy op hierdie stadium skaars besig is om net te “cope” wat nog te sê van probeer ma wees of om besig te wees om die Here te soek. Ons het ‘n nuwe kleinding (1 maand oud) in ons huis na 4 jaar en moet sy regtig hard werk om hom te versorg en gelukkig te hou, asook ons dogter wat nou nog meer aandag soek by mamma, omdat sy sien die aandag word nou verdeel.

Terwyl ek ook met ‘n vriendin gesels vandag oor die Here met my gepraat het oor haar in ‘n droom, noem sy dat die vyand weer ernstig besig is om haar gedagtes aan te val oor dinge van die verlede en oor haar eks man, terwyl die Here haar onlangs, in Israel, volkome losgemaak het daarvan. Sy noem toe dat sy intens tot die Here bid dat Hy haar gedagtes gevange neem, sodat sy nie die goed sal bedink nie. Tog sê die Woord dat dit ons verantwoordelikheid is om ons gedagtes gevange te neem!

2Kor 10:3  Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie;

2Kor 10:4  want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp,

2Kor 10:5  terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,

Soveel kinders van die Here gaan gebuk onder intense aanvalle op hul finansies en kom dit voor asof daar net geen deurbrake kom nie en kry baie van hulle bitter swaar. Die eerste vraag vanaf die ongelowiges is dan ook onmiddelik: “waar is jou God dan, ek dag kinders van die Here is geseend”. Terwyl ek self aanslae in my besigheid beleef, glo ek dat hierdie ook ‘n fase is waar Vader vir ons wys wat werklik in ons harte is en ook om ons te leer om volkome net op Hom te vertrou soos Matt 6: 33 dit stel. Dit maak dit nie makliker om daardeur te moet gaan nie en daar is nie maklike antwoorde vir kinders wat honger het nie. Tog is hierdie die tye waar ons regtig sal moet vasbyt en waar ons geloof tot die uiterste getoets gaan word, want die Bybel is duidelik dat die verdrukking wat kom, nog nie voorheen op hierdie aarde te sien was nie.

Die vraag kom dus op: “hoe gaan jy hierdie dinge hanteer as dit op JOU pad kom?..het jy genoeg olie in jou lampie om te kan staande bly in sulke tye?”

Amos het dinge van die einde as volg beskrywe:

Amo 8:9  En in dié dag, spreek die Here HERE, laat Ek die son op die middag ondergaan en vir die aarde die lig duister word terwyl dit nog dag is.

Amo 8:10  En Ek verander julle feeste in rou en al julle liedere in klaagsang, en Ek bring op alle lendene ‘n roukleed en op alle hoofde kaalheid. En Ek maak dit soos by die rou oor ‘n enigste kind en die einde daarvan soos ‘n bittere dag.

Amo 8:11  Kyk, daar kom dae, spreek die Here HERE, dat Ek ‘n honger in die land stuur, nie ‘n honger na brood nie en nie ‘n dors na water nie, maar om die woorde van die HERE te hoor.

Kan ek en jy werklik in hierdie oomblik al verklaar dat ons ‘n honger en dors het vir ons Jesus en Sy woord? Indien nie, dink ek daar is verseker rede tot kommer vir elkeen wat nie waarlik besig is om God te soek nie. Dis tyd dat ons klaarkry met die dinge wat geen ewigheidswaarde het nie…ja ook die dinge wat so heilig en godsdienstig lyk!

Ons Koning is oppad! Is jy gereed om Hom tegemoet te gaan?

Waarmee is jy op hierdie stadium besig???

Mag die Heilige Gees self die oortuiging doen in elkeen van ons se lewens!

 

Seek ye first My kingdom

And trust not the worldly wisdom

For I will provide

And My blessings on you, I will not hide

 

Why do you fear

And think that I am not near

Why worry about tomorrow

When today the field you must still sow

 

Have I not commanded you to not fear

But to be strong and courageous and draw near

To Me the Rock of ages

Who is the One that pays your wages

 

You I will never be forsaken

No matter what the enemy has taken

For what I desire

Is for your heart to be on fire

 

To make you a testimony

To remind the devil of his destiny

For I will make you like new wine

‘Cause I have overcome and victory is Mine

 

Just stay close to My side

For under My wings you I will hide

And you will always have what you need

‘Cause even the birds I do feed

 

All I ask is for you to believe

For then you will receive

From heaven your daily bread

And by My mighty hand, your children will be fed

 

Give thanks to the Lord for He is good

Who gives you all you need and your food

Always have a thankful heart

For that my friend, is very smart

Alle eer altyd net aan ons Koning Jesus wie besig is om ons voor te berei vir Sy koms!

ernest phillipson

ecp@oicb.co.za