In die eerste deel van Johannes 3: 16 lees ons hierdie baie bekende woorde, maar wat beteken dit werklik?

Joh 3:16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Van die begin van die skepping af, het God begeer om met die mens in ‘n liefdesverhouding te wandel en het net die goeie vir die mens beplan. Soveel só dat Hy die mens geskape het na Sy beeld en gelykenis en toe aan hom die heerskappy gegee het oor alles wat Hy vooraf perfek geskape het!

Gen 1:26 En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.

Gen 1:27 En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.

Dit het egter nie net daar gebly nie, maar Hy het toe ook verder gegaan en die mens geseën met die volheid van Sy seëninge, sodat die mens nooit te kort sou hê nie!!!

Gen 1:28 En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.

Wie van ons het al ooit gaan stilsit en nadink oor hoé lief God elkeen van ons het? Dat Hy ons genoeg vertrou om die hele skepping op die aarde aan ons toe te vertrou? Hy het nie vir een oomblik getwyfel of gedink dat ek en jy nie bevoeg is om dit te doen nie, want Hy het geweet dat Hy ons perfek geskape het, nes Hy ons wou gehad het! Want toe Hy terugstaan en kyk na ALLES wat Hy gemaak het, het Hy gesien dat dit BAIE GOED was!!!

Gen 1:31 Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed.

God het my en jou só lief gehad dat Hy aan elkeen van ons ‘n vrye wil gegee het, sodat ons kan kies om Hom ook lief te hê, omdat Hy nie skepsels gesoek het wat Hom uit dwang sou dien en liefhê nie. Satan het van die begin af besef dat hierdie vrye wil, die enigste weg sal wees waardeur hy die mens se liefdesverhouding met God, kon versuur.

God het egter van die begin af geweet dat hierdie die kwesbare deel in die mondering van die mens is, maar nogtans het Hy geweet dat die mens ten volle heilig en perfek geskape is en dat die mens sou kon heers oor hierdie deel van sy menswees ook. God het egter geweet dat satan dit sou regkry om die mens te verlei en het Hy van die begin af geweet dat Hy sy seun sou moes offer in plek van die mens, om sodoende die mens se siel te red uit die ewige vuur van die hel!

Jesus was dus nog altyd God se “plan A” vir die redding van die mens. Jy sien, God het my en jou só perfek gemaak, dat Hy tot ons redding in die fynste detail, vooruit beplan het.

Jy sien my liewe vriend en vriendin, die mens het sy saligheid deur die uitoefening van sy vrye wil verloor en die enigste manier om dit weer te kan terugkry, is om weer ‘n vrye keuse te maak vir Jesus Christus  as jou Redder en Saligmaker!

Joh 3:17 Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

Rom 10:9 As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word;

Rom 10:10 want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.

Rom 10:11 Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.

Rom 10:13 Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

Ons het nie net ons redding deur Jesus Christus verkry nie, maar God het Hom na hierdie aarde toe gestuur, sodat Hy vir ons prakties kon kom wys hoé groot Sy liefde vir ons is en hoé ons kan heilig lewe! Jesus was in alle opsigte nes ek en jy versoek en het die duiwel verskeie kere probeer om Hom ook te versoek met die wêreldse dinge. Ons lees van slegs drie sulke voorvalle in Matt 4 en Lukas 4. Die Woord sê egter dat Hy in alle opsigte nes ons versoek was! Dit beteken dat daar niks is wat ek en jy vandag mee sukkel, wat Jesus nie self mee versoek was nie!!!

Heb 4:15 Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.

Heb 2:17 Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen.

Ons lees dan ook op verskeie plekke in God se woord hoe Jesus hierdie liefde van God, prakties uitgeleef het.

Een van die grootste leuens waarmee satan die mensdom vandag nog bind, is dat die sonde wat jy doen of gedoen het, te groot en erg is en dat Jesus jou nooit daarvoor kan vergewe nie. In die verhaal hieronder, soos ons dit in Lukas opgeteken vind, bewys Jesus net mooi die teendeel!

Luk 7:37 En toe ‘n vrou in die stad, wat ‘n sondares was, verneem dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was, het sy ‘n albaste fles met salf gebring

Luk 7:38 en agter by sy voete gaan staan en geween; en sy het sy voete begin natmaak met haar trane en hulle afgedroog met die hare van haar hoof; en sy het sy voete gesoen en met salf gesalf.

Luk 7:39 Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: Hy, as Hy ‘n profeet was, sou geweet het wie en watter soort vrou dit is wat Hom aanraak; want sy is ‘n sondares.

Hierdie vrou wat skuldig was aan hoerery / egbreek en wat deur die gemeenskap reeds geoordeel en veroordeel was, hoor dat Jesus by die Fariseër (Bybelkenner, kerkmens of wat jy dit ook al vandag noem) tuisgaan en besluit dat sy met alles wat sy het en met net haar beste na Jesus toe gaan. By Jesus se voete kom pak sy uit en kry haar vergifnis!

Let wel, sy het nie gewag vir ‘n uitnodiging van die Fariseër of een of ander amptenaar af, voor sy binne gegaan het nie. Sy het Hom ook nie voorheen geken of saam met Hom gewandel nie. Sy gaan met vrymoedigheid, reguit na Jesus omdat sy geweet het dat Hy al een is wat haar kan help. En dit terwyl die mense steeds veroordelend na haar gekyk het, maar sy het haar nie aan mense gesteur nie.

Luk 7:47 Daarom sê Ek vir jou: Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief.

In die geval van sy goeie vriend, Laserus, bewys Jesus dat Hy ook ‘n mens was wat hartseer ervaar het en wat simpatie het met mense wat die verlies van ‘n geliefde, moet verwerk. Só dikwels bind die duiwel die mens vandag met onvergifnis d.m.v. slegte herinneringe oor sy of haar optrede teenoor ‘n afgestorwene. Baie kere verkwalik hul die Here vir ‘n ontydige afsterwe van ‘n geliefde of kind.

Weereens het die mens hier ‘n keuse om soos Martha na Jesus te gaan of soos Maria by die huis te sit in selfbejammering met die hartseer en pyn. En dis net daar waar die duiwel jou en my wil hou! Terwyl Martha ook in rou was, kies sy om na Jesus te gaan en al wat Jesus van haar vra, is dat sy net geloof in Hom sal hê dat Hy by magte is om dit wat die dood mee gebring het, te omskep in lewe.

Joh 11:33 Toe Jesus haar dan sien ween en die Jode wat saam met haar gekom het, ook sien ween, het Hy geweldig bewoë geword in sy gees en Hom ontstel

Joh 11:25 Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe;

Joh 11:26 en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?

Mat 11:28 Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.

Mat 11:29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele;

In die verhaal van die vrou wat op egbreek betrap is, soos in Joh 8 opgeteken, bring die “kerkmense” weereens die vrou na Jesus toe om Hom te versoek. Hulle het reeds die vrou volgens hulle gebruike, leerstellings en waardes geoordeel en wou hê dat Hy ‘n “rubber stamp” plaas oor die voorskrifte en wette waarvolgens hul geoordeel het; maar nie noodwendig gelewe het nie!

Want sien, die Woord sê mos geen hoereerder sal in die hemel kom nie…nee, dis NIE wat die Woord sê nie! Daar is altyd vergifnis by Jesus!!!

En hier bewys Jesus dat Hy nie gekom het om mense in die hel te verdoem nie, maar om mense nog ‘n kans te gee!

Joh 8:3 En die skrifgeleerdes en die Fariseërs het ‘n vrou wat in egbreuk betrap was, na Hom gebring.

Joh 8:4 En toe hulle haar tussen hulle in laat staan het, sê hulle vir Hom: Meester, hierdie vrou is op ‘n daad van egbreuk betrap;

Joh 8:5 en Moses het ons in die wet bevel gegee om sulke vroue te stenig; maar U, wat sê U?

Joh 8:6 En dit het hulle gesê om Hom te versoek, sodat hulle iets kon hê om Hom te beskuldig; maar Jesus het neergebuk en met die vinger op die grond geskrywe.

Joh 8:7 Maar toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy Hom opgerig en vir hulle gesê: Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste ‘n klip op haar gooi.

Joh 8:8 En weer het Hy neergebuk en op die grond geskrywe.

Joh 8:9 En toe hulle dit hoor, het hulle, deur hul gewete bestraf, een vir een weggegaan, van die oudste af tot die laaste toe; en Jesus het alleen agtergebly, en die vrou wat daar tussen hulle in gestaan het.

Joh 8:10 En toe Jesus Hom oprig en niemand sien behalwe die vrou nie, sê Hy vir haar: Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie?

Joh 8:11 En sy antwoord: Niemand nie, Here. En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.

Joh 3:17 Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

Die voorwaarde in Joh 8: 11 is egter baie duidelik: “gaan en sondig nie meer nie!!!” Wanneer ons ons sondes met opregtheid bely het, moet ons ons rug daarop keer en anders begin lewe! En dit kan ons net regkry deur na aan die Here te wandel en gehoor te gee aan die stem van die Heilige Gees, wanneer Hy ons waarsku teen die sonde!

Sekerlik die grootste bewys van God se liefde vir die mens, is toe Jesus vir my en jou sonde gemartel is en aan die kruis gesterf  het vir ons. Daarna het Vader Hom uit die dood opgewek, sodat ek en jy ‘n ewige toekoms saam met Jesus in die hemel mag hê!

Isa 53:3 Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ‘n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie.

Isa 53:4 Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte—dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was.

Isa 53:5 Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.

Isa 53:6 Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.

Isa 53:7 Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders—ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie.

Wat ek eers onlangs in die Skrif raak gelees het, is dat dit vir Jesus ‘n vreugde was om vir my en jou te sterf! Ja, Hy was volwaardig mens nes ek en jy en Hy het elke pynlike hou en stuk vleis wat van Sy liggaam afgeskeur is, gevoel! Hy het elke spyker wat Sy hande en voete deurboor het, se pyn gevoel! Elke pynlike asemteug terwyl Hy stadig besig was om te versmoor aan die kruis, het Hy gevoel!

NOGTANS was dit vir Hom ‘n vreugde en het Hy die doel daarvan verstaan!

Heb 12:2 die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.

WOW!!!!!!!!!!! What an awesome God, who loves us much more than we deserve!

Daar is egter ‘n ander baie belangrike bewys van Jesus se liefde en genade, wat baie maal mis gekyk en mis gelees word! Die aand voordat Jesus gekruisig is, trek Hy sy bokleed uit en neem ‘n skottel water en begin Sy dissipels se voete was. Hierdie het Hy gedoen om aan ons die voorbeeld te stel, dat ons diensknegte onder mekaar moet wees.

Ek glo dat daar egter nog ‘n dieper betekenis in hierdie handeling lê! Terwyl Hy geweet het dat Judas oorgegee was aan die verderf, het Hy ook by hom gekniel en sy voete gewas. Hiermee wys Hy ook vir ons dat ons ons vyande ook moet liefhê, soos Hy hulle op ‘n vorige geleentheid geleer het.

Verder, glo ek, was hierdie gebaar ook ‘n laaste pleidooi aan Judas om te bekeer, al was dit bestem dat Vader hom aan die duiwel oorgegee het om Jesus te verraai. Daar was oor as genoeg redes wat die Fariseërs kon aanvoer om Jesus in elk geval in hegtenis te neem en te kruisig, sonder dat Judas hom moes verraai. Daarom glo ek, dat omdat Jesus ook vir Judas lief gehad het, het Hy hierdeur ook, vir oulaas, by hom gepleit om tot inkeer te kom!

Joh 13:11 Want Hy het geweet wie Hom sou verraai. Daarom het Hy gesê: Julle is nie almal rein nie.

Joh 13:12 Toe Hy dan hulle voete gewas en sy bo-klere geneem het, gaan Hy weer aan tafel en sê vir hulle: Verstaan julle wat Ek aan julle gedoen het?

Joh 13:13 Julle noem My Meester en Here, en julle is reg, want Ek is dit.

Joh 13:14 As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was.

Joh 13:15 Want Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen.

Joh 13:16 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, ‘n dienskneg is nie groter as sy heer nie, en ‘n gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie.

Joh 13:17 As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen.

Hierdie is vir my ‘n bewys van Jesus se onvoorwaardelike liefde vir elke mens op hierdie aarde en dat dit nie Sy wil is dat enige iemand moet verlore gaan nie!!!

Eze 33:11 Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë!

Joh 3:15 sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Al wat dus nou oorbly my liewe perfekte, Godgeskape mens, is om te vra: Wanneer gaan ek en jy besef dat daar ‘n God is wat my en jou só liefhet, dat niks ons ooit uit Sy hand kan ruk of van Sy liefde kan skei nie!

Rom 8:31 Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?

Rom 8:32 Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?

Rom 8:33 Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak.

Rom 8:34 Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.

Rom 8:35 Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?

Daar is geen sonde wat te groot is, wat Hy nie kan vergewe nie!

Daar is geen sonde wat só onrein is, dat Sy bloed dit nie kan wit was nie!

Daar is geen hartseer wat Hy nie kan vertroos nie!

Daar is geen einde aan Sy “tweede kanse” solank as ons nog lewe nie!

Daar is geen verslawing wat Hy nie alreeds oorwin het nie!

Daar is geen probleem waarvoor Hy nie alreeds die oplossing het nie!

Psa 103:2 Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie!

Psa 103:3 Wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees,

Psa 103:4 wat jou lewe verlos van die verderf, wat jou kroon met goedertierenheid en barmhartighede,

Psa 103:5 wat jou siel versadig met die goeie, sodat jou jeug weer nuut word soos dié van ‘n arend.

Psa 103:6 Die HERE doen geregtigheid en reg aan almal wat verdruk word.

Psa 103:7 Hy het aan Moses sy weë bekend gemaak, aan die kinders van Israel sy dade.

Psa 103:8 Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid.

Psa 103:9 Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie.

Psa 103:10 Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie.

Psa 103:11 Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees.

Psa 103:12 So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.

Psa 103:13 Soos ‘n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees.

My liewe mens, wanneer gaan ek en jy God se onvoorwaardelike liefde vir my en jou aanvaar en ons alles aan Hom oorgee, sodat Hy in en deur ons kan wees wat Hy ons gemaak het om te wees?

Wanneer gaan ons tot die besef kom dat ons nie net ‘n God het wat vir ons lief is nie, maar dat Hy ook ‘n Vader vir ons wil wees wat Hom ontferm oor ons en ons wil seën met die volheid van Sy keur seëninge? Ek en jy moet net tot die besef kom dat daar niks is wat ek en jy kan doen wat Jesus se liefde vir my en jou, meer of minder kan maak nie! Sy liefde bly onvoorwaardelik groot en altyd dieselfde vir ieder en elke mens op hierdie aarde, maar dis nie verniet nie!

Dit kos jou lewe…jou lewe van volle oorgawe aan Hom en ‘n daaglikse lewenswandel saam met Hom alleen!!!

Liewe mens, jy het ‘n vrye wil gekry om keuses te maak… kies dan vandag wie jy wil dien en wie jy wil vertrou met al jou bekommernisse, hartseer, pyn, teleurstellings, vrese en vreugdes.

Mag alle eer altyd aan Jesus Christus gaan, wie my en jou só liefhet, dat Hy reeds alles gedoen het, sodat ek en jy alreeds hier op aarde in oorwinning kan lewe…vol van Sy vreugde en vrede!

Joh 14:27 Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.

Ernest Phillipson

ecp@oicb.co.za