1Sam 16:7 Maar die HERE sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.
Terwyl ek stil word by die Here gisteraand, ervaar ek duidelik in my gees hierdie vraag: “wat is in jou hart My kind, wat is die gesindheid en dryf in jou hart waarmee jy na My toe kom of waarmee jy leef in hierdie dae?” Onmiddelik word ek toe herinner daaraan dat Abba na ons harte kyk en dat ons by Hom geen skans kan voorhou soos ons by mense kan doen nie!
Só baie mense sien ons aan as “heilige mense” op grond van dit wat ons sê of die dingetjies wat ons doen, wat só Christelik voorkom. Tog is daar baie keer in ons harte ‘n valsheid of by-
Dit is só maklik om met die mond te verklaar dat Jesus se koms baie naby is, maar is ons werklik besig om te lewe asof Hy inderdaad vandag dalk kan kom om Sy bruid te kom haal?
Terwyl ek die afgelope maand die klomp vakansiegangers hier in ons dorp, Mosselbaai, dophou, hoé hulle feesvier en plesiertjies najaag, kom die volgende deel uit die Skrif by my op en sien ek hoé dit daagliks voor my oë manifesteer.
2Tim 3:1 Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom.
2Tim 3:2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig,
2Tim 3:3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie,
2Tim 3:4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God;
2Tim 3:5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.
Ek sien hoé dit vir jongmense net gaan oor hoé hulle lyk, aantrek (so min as moontlik in meeste gevalle) en watse “brand name gadgets” hulle saamdra. Vir die ouer gaarde gaan dit oor: wat ek ry, waar ek bly en wat ek in die lewe vermag het. En dan kom dit by my op dat ‘n groot klomp van die meerderheid mense hier, sal bely dat hulle Jesus as Saligmaker aangeneem het, maar as mens kyk na die vrug wat gedra word dan kan jy nie anders as om te wonder nie!
Die realiteit is dat die dinge waarop jy jou gedagtes fokus, is die dinge wat in jou hart sal wees!
Prov 23:7 For as he thinketh in his heart, so is he: Eat and drink, saith he to thee; but his heart is not with thee.
Pred 9:3 Dit is ‘n verkeerde ding by alles wat plaasvind onder die son, dat een en dieselfde lot almal tref, en ook die hart van die mensekinders vol boosheid is, en dat dwaasheid in hulle hart is gedurende hulle lewe; en daarna gaan dit na die dooies toe!
Jesus self het op ‘n stadium gesê dat dit nie is wat by die mond ingaan wat die persoon onrein maak nie, maar dit wat uit die mond uitgaan, omdat dit die dinge is wat uit die hart kom.
Mat 15:10 En Hy het die skare na Hom geroep en vir hulle gesê: Luister en verstaan!
Mat 15:11 Nie wat in die mond ingaan, maak die mens onrein nie; maar wat uit die mond uitgaan, dit maak die mens onrein.
Mat 15:18 Maar die dinge wat uit die mond uitgaan, kom uit die hart, en dit is dié wat die mens onrein maak.
Mat 15:19 Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal.
Mat 15:20 Dit is hierdie dinge wat die mens onrein maak; maar om met ongewaste hande te eet, maak die mens nie onrein nie.
Ek was die afgelope tyd verstom om te hoor hoé kinders van God rondom die koffietafel kan sit en praat oor die dinge en Woord van die Here en dan KIES om só hier en daar ‘n vloekwoord in te werk om só bietjie krag aan sy/haar stelling te verleen, of baie keer net omdat dit nog ‘n vieslike gewoonte is en hulle kies om dit nie af te lê nie. Die ergste is dat die res van die geselskap dit maar gedweë aanvaar, omdat hulle nie graag die persoon se gevoelens wil seermaak of aanstoot gee nie. Dieselfde ligsinnige grappies van die wêreld word oorvertel en feitlik almal lag te lekker daaroor. En tog sê die Woord van God:
Jak 4:4 Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.
Dieselfde hoeveelheid ongeloof en kleingelowigheid word by kinders van God bespeur as by die ongelowiges, wie alles vrees! Dan sit ek en wonder hoé verskil ons dan van die wêreld as ons taalgebruik en optrede dieselfde is as die ongelowiges? Terwyl die Here 365 keer in Sy woord sê dat ons nie moet vrees of ons bekommer nie!
Joh 14:1 Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.
Luk 18:7 Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval?
Luk 18:8 Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?
Die vraag is dan aan jou en my wie onsself kinders van God noem, waarin of in wie stel ek en jy ons vertroue en waarin is ons geloof…in jou rykdom, jou werk, jou geleerdheid, jou kennis van die Woord? Ek vind dit meer as gereeld dat mense die vermoeë het om die een vers na die ander uit die Bybel te kan kwoteer, maar die vraag bly: ken hulle die teks of ken hulle Hom wie die Woord is en is hulle vertroue dan in Hom wie die Lewende Woord is?
Spr 3:5 Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.
Spr 3:6 Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.
Spr 3:7 Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE, en wyk af van die kwaad;
Spr 3:8 dit sal genesing wees vir jou liggaam en verkwikking vir jou gebeente.
Mat 6:31 Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie?
Mat 6:32 Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.
Mat 6:33 Maar soek eers die koninkryk van God (Sy outoriteit en heerskappy)en sy geregtigheid (Jesus se manier van dinge doen), en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.
Mat 6:34 Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.
God is ook baie duidelik in Sy Woord oor die woord wat by ons mond behoort uit te kom:
Ef 4:29 Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ‘n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor.
Ef 4:30 En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.
Ef 4:31 Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid.
Ef 4:32 Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.
Kol 3:8 Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond.
Kol 3:9 Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het
Tog hoor ons redelik baie hoé die kinders van die Here hulself wil regverdig oor die sogenaamde “heilige woede” wat oor hulle gekom het, oor die een of ander ding wat iemand anders teenoor hulle gedoen of gesê het en dan is hulle vreeslik vinnig om die geval aan te haal waar Jesus die tafels omgekeer het in die tempel. En dan lees ek die stuk in die Bybel en ek sien wat was in Jesus se hart toe Hy dit gedoen het, maar dan vind ek nie dieselfde gesindheid by die mense wat só “heilig” kwaad geword het nie.
Selfs hierin het Jesus vir ons die voorbeeld kom stel toe Hy ons onderrig het oor hoé ons teenoor mekaar behoort op te tree en toe Hy self ook Sy woord tot op die laaste letter vervul het toe Hy aan die kruis gesterf het!
Ef 4:32 Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.
Kol 3:13 Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.
En tog, na alles wat ek hierbo genoem het oor die dinge wat ek die afgelope tyd by mense waargeneem het, kom Vader na my toe en vra vir my: “wat is in JOU hart my kind?”
‘n Week gelede konfronteer die Here my weer met die Skrif uit Openbaring wat ons waarsku dat ons moet terugkeer na ons Eerste Liefde toe! Hierdie was die heel eerste brief wat Johannes moes skryf en het gegaan aan die gemeente in Efese.
Opb 2:1 Skryf aan die engel van die gemeente in Éfese: Dít sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand hou, wat wandel tussen die sewe goue kandelaars:
Opb 2:2 Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid, en dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het;
Opb2:3 en dat jy verdra het en lydsaamheid besit, en ter wille van my Naam gearbei en nie moeg geword het nie.
Opb2:4 Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het.
Opb2:5 Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie.
Só maklik kan ‘n mens op ‘n plek kom waar jy dink jy is “okay” as jy besig is met die dinge van die Here of selfs gereeld “fellowship” het met mede gelowiges en dan kom jy nie agter dat die vyand jou subtiel begin wegtrek van “fellowship” met God nie. Selfs al staan jy in bediening en is jy gereeld besig om ander te help om uit die gevangenis van die vyand los te kom, kan dit soms gebeur dat jou fokus van Jesus af skuif na jouself of die werke toe! Só paar maande gelede gee die Here my hierdie vers, wat so bietjie die mat onder my uitgepluk het op daardie stadium:
Rom 2:19 en jy is oortuig dat jy ‘n leidsman is van blindes, ‘n lig vir die wat in duisternis is,
Rom 2:20 ‘n opvoeder van onverstandiges, ‘n leermeester van onervarenes, omdat jy die beliggaming van die kennis en die waarheid in die wet het
Rom 2:21 jy dan, wat ‘n ander leer, leer jy jouself nie? Jy wat preek dat ‘n mens nie mag steel nie, steel jy?
Dis toe dat ek besef dat dit baie maklik is om jou oog van Jesus af te haal en die kern te skuif na iets anders toe, terwyl dit altyd net oor Hom moet gaan! Só baie kinders van God probeer hul absolute bes om die Woord van God getrou te hou, net om weer keer op keer teleurgestel te word en dan kom hulle op die punt waar hulle voel dit is net te moeilik. Op daardie punt oorweeg hulle dan somtyds ook om net alles op te gee en terug te keer na hulle vorige lewenswandel. Terwyl hulle eerder hulle tyd en kragte moet gebruik om te bou aan ‘n lewende verhouding met die lewende Jesus Christus en Hom dan te vertrou om ons deur Sy Gees te lei om nougeset te wandel in die volheid van Sy woord! Waar ons dan sal struikel, kan ons dan ook weet dat ons met ware berou na Hom kan gaan en dat Sy genade vir ons genoeg is!
Om in ‘n lewende verhouding met Jesus te wees, beteken om in Sy vrede te bly en om Sy aangesig te soek in alles wat jy doen, om alles aan Hom toe te vertrou en om te wag op Hom dat Hy jou lei deur Sy Gees!
Joh 15:3 Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het.
Joh 15:4 Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie.
Joh 15:5 Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.
1Sam 15:22 Daarop sê Samuel: Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.
Daar is te veel leringe en leerstellings, in hierdie dae, wat die kind van God se fokus wil plaas op dooie werke en op “performance” en wil terugneem na die eerste dinge van hierdie wêreld. Ek noem dit sommer die onderstebo evangelie, want as jou oog op Jesus gerig is en jou hart om Hom te soek en lief te hê bo alles, dan sal jy outomaties vrug dra en werke doen, want Sy Gees sal jou dring!
Na alles wat hierbo geskryf is, bly die vraag vir my en jou: “wat is in jou hart My kind?”…en net jy en God weet dit!
Die tyd het gekom dat ek en jy vir Jesus vra om met Sy wonderbare lig in ons harte te kom skyn en vir ons te wys wat daar is wat Hom nog op die kruis hou en vir ons op die troon! Want sien my liewe vriend, Jesus het klaar op die kruis gehang vir my en jou en nou wil Hy op die troon van ons harte sit!
Ek kan nie vandag vir jou daardie besluit neem nie en net jy weet hoe om op hierdie vraag te antwoord
Vir my eie lewe kan ek maar net vanaand soos Dawid kom vra: (Ps 51: 7-
Vader, Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu. Laat my vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente juig wat U verbrysel het. Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede. Skep vir my ‘n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees. Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie. Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur ‘n gewillige gees.
Amen!
Alle eer aan Jesus Christus vir Sy offer aan die kruis en aan Abba vir Sy lankmoedigheid dat hierdie nog genade tyd is, sodat ons kan voorberei om as bruid gereed te wees vir ons Messias!
Ernest Phillipson
ecp@oicb.co.za